STILBAAI NUUS - Sondag, 12 September was 'n heuglike dag toe Mossie Mostert van Stilbaai sy 90ste verjaardag tuis met familie en vriende gevier het. Sy naam is duidelik 'n afleiding van sy van, want oom Mossie, soos mense hom deesdae noem, is 'n sterk man wat na nege dekades op Moeder Aarde nog perdfris en gesond is.
Sy resep vir 'n hoë ouderdom is 'n gesonde leefstyl en positiewe denke.
Oom Mossie is dan ook die oudste lid van prof. Hannes Botha se gimnasium, en gaan sweet nog vyf oggende van die week daar. Hy het twee Comrades-marathons gehardloop, die Visrivier meer as een keer gestap en talle ander vyfdag-staptogte aangepak.
Oom Mossie is in 1931 in Braamfontein in Johannesburg gebore. Hy is die oudste van vier kinders en moes al vroeg in sy lewe die man in die huis wees omdat sy pa in Noord-Afrika gestasioneer was tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Op 4 Oktober vanjaar sal hy en sy 89-jarige eggenoot, Joy, al 69 jaar getroud wees.
Hy het haar sowat 70 jaar gelede as jong meisie op die Krugersdorp-stasie raakgesien en net daar besluit dié sprankelende nooi is sy toekomstige vrou.
Hulle het 4 kinders, 9 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.
Bo is Mossie en Joy Mostert op hul troudag op 4 Oktober 1952 en onder klink hulle verlede jaar 'n glasie op 68 gelukkige jare saam.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'