HEIDELBERG NUUS - 'n Tweede moord binne slegs enkele dae het verlede week op Heidelberg plaasgevind.
'n Jong pa van een kind, Aluncedo Faku (25) het Saterdag, 13 November by die ingang na sy houtstruktuur gesterf nadat hy na bewering deur sy saamleefmaat, Julandi Fatjela (30) aangerand en in die bors met 'n skerp voorwerp gesteek is.
Die voorval het om ongeveer 00:20, beswaarlik twee weke voor Faku se verjaarsdag, in Dollar Square plaasgevind. Hy sou op 25 November 26 jaar oud wees. Hy is op die toneel deur die ambulanspersoneel dood verklaar.
Die polisie was gou op die toneel waar 'n groot groep inwoners saamgedrom het. Jacques September, 'n vriend van Faku het histeries op die toneel geskreeu dat Fatjela dit moes gedoen het, omdat sy vir Faku 'n rukkie voor die voorval by 'n speletjieswinkel (game shop), waar hulle twee (September en Faku) besig was om te kuier, kom haal en huis toe gegaan het.
Die polisie het Fatjela vir ondervraging na die polisiestasie geneem, waar sy van moord aangekla is. Volgens die ondersoekbeampte, sers Whitey Solomons het Fatjela laat Sondagmiddag 'n bekentenis afgelê dat sy Faku in die bors gesteek het nadat hulle in 'n argument betrokke was.
Solomons het bygevoeg dat Fatjela 'n vorige aanklag van moord in die gesig staar nadat sy op 11 April vanjaar haar suster se vriend, Terence Lunga (32) ook met 'n mes gesteek en hy beswyk het. Sy was op vryborg uit en verskyn weer op 6 Desember in die plaaslike landdroshof op die nuwe moordklag.
Sy het Maandag, 15 November op dié aanklag in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak is tot Maandag, 29 November vir borgtogaansoek uitgestel.
Sy bly in aanhouding.
Aluncedo Faku sou op 25 November verjaar.
VERWANTE ARTIKEL: Vrou in hegtenis na jongman sterf
Die eerste moord
Suid-Kaap Forum het verlede week berig oor 'n 18-jarige vrou wat Woensdagoggend, 10 November in hegtenis geneem en op aanklag van moord aangekla is.
Dit het gevolg na die liggaam van Linda Litemwe (26), 'n Zimbabwiese burger tussen 03:50 en 04:30 in die wendyhuis op die plaas Doringvlei waar sy gewoon het, gevind is.
Sy het veelvuldige steekwonde aan die nek, linkerarm en gesig gehad. Litemwe, wat ook die ma van een kind was, is op die toneel deur die ambulanspersoneel dood verklaar.
Die beskuldigde, Chrislee Bayman (18) het Vrydag, 12 November vir die eerste keer in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak is tot Dinsdag, 16 November uitgestel, waarna dit weer tot Dinsdag, 23 November uitgestel is vir haar borgtogaansoek. Sy bly in aanhouding in Oudtshoorn.
VERWANTE ARTIKEL: Jong vrou vas na moord
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'