RIVERSDAL NUUS - Die ACVV Riversdal het jaarliks verskeie projekte om inwoners te help.
Een hiervan is 'n handsak-projek.
"Die doel van hierdie projek is om die handsakke aan tienermeisies te gee wat aan geweld blootgestel is," sê Petra Stegmann, maatskaplike werker. "U gebaar kan 'n reuseverskil in die lewens van hierdie individue maak."
Wat om te doen
Iewers in 'n kas, of selfs in 'n boks in die motorhuis is 'n ou handsak, of 'n handsak wat jy nie meer wil hê nie, weggebêre.
"Met hierdie projek bied ons 'n oplossing vir die probleem en kan jy sodoende iemand help. Ons wil dames aanmoedig om hierdie handsak met 'n paar produkte te vul," vra Stegmann.
Items
'n Tandeborsel, tandepasta, seep, handeroom, sanitêre doekies en deodorant.
"Daarby kan u 'n gunstelingaanhaling of versie voeg. Indien u enige ander produkte in die handsak wil sit is u meer as welkom."
Die handsakke kan by die ACVV se kantoor in Oosthuizenstraat 15 afgegee word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'