HESSEQUA NUUS - Alle televisies sal teen Desember 2019 'n dekodeerder nodig hê wanneer die uitsaaier van analoog na digitale televisieseine oorskakel.
Seine wat ná die afsnydatum geblok word, is 'n internasionale tendens en word nie net in Suid-Afrika toegepas nie.
Behoeftige huishoudings met 'n gesamentlike inkomste van R3 200 of minder, kwalifiseer egter vir 'n gratis digitale dekodeerder en die departement van kommunikasie bestuur die voorsiening van dié dekodeerders.
Die poskantoor is aangestel om die registrasie en installeringsproses te hanteer, omdat daar kantore in elke dorp is wat die rekenaarprogram het om aanlynaansoeke te hanteer.
Huishoudings wat aan die minimum vereistes voldoen, kan by die poskantoor registreer vir 'n gesubsidieerde dekodeerder.
Volgens statistiek wat die poskantoor van die departement ontvang het, is daar na raming ongeveer 19 052 huishoudings op Riversdal en 8 881 op Stilbaai wat vir 'n gesubsidieerde dekodeerder kwalifiseer.
Die ander kwalifikasies vir 'n gratis dekodeerder sluit in dat 'n persoon 'n Suid-Afrikaanse burger moet wees en oor 'n televisie in 'n werkende toestand moet beskik.
Persone word aangeraai om die poskantoor so gou as moontlik te besoek en hul identiteitsdokument saam te neem.
Indien hulle nie oor 'n bewys van inkomste beskik nie, kan hulle 'n verklaring by die poskantoor aflê.
Hulle hoef nie oor 'n televisielisensie te beskik nie en daar kan selfs meer as een dekodeerder per huishouding wees as die ouers byvoorbeeld by die kinders woonagtig is.
Persone wat kwalifiseer, moet 'n selfoonnommer verskaf en sal 'n SMS van goedkeuring ontvang, waarna 'n afspraak vir gratis installering gemaak sal word.
Afhangende van die ligging van die huis en woonbuurt, sal 'n skottel of antenna geïnstalleer word.
Kykers sal dan toegang hê tot die 12 gratis kanale.
Huishoudings wat reeds oor 'n satelliet subskripsietelevisiediens beskik, sal nie 'n dekodeerder benodig wanneer die oorskakeling gefinaliseer is nie.
Volgens Rian de Jager, kleinhandelstreekbestuurder van die SA Poskantoor in die Wes-Kaap wat die Eden-distrikskommunikasieforum op Stilbaai toegespreek het, is vyf miljoen gratis dekodeerders beskikbaar gestel.
Dié diens sal nie na die afsnydatum van Desember 2019 voortgesit word nie.
Hy het 'n beroep op organisasies gedoen om die boodskap in die gemeenskap te versprei om 'n toeloop op die laaste nippertjie te voorkom.
Persone wat kwalifiseer of enige vrae het, kan die poskantoor besoek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'