HESSEQUA NUUS - Tegniese dienste is besig om slaggate in paaie en op sypaadjies binne die Hessequa-streek te herstel om verdere agteruitgang van strate te voorkom.
Winterreën het sy tol geëis deur die slaggate oop te spoel of nuwe skade aan paaie aan te rig.
Op Maandag, 14 Desember het Didi Budricks, Hessequa-munisipaliteit se kommunikasiebeampte bekend gemaak dat R9 miljoen deur die stadsvaders bewillig is om in die bestaande finansiële boekjaar die opgradering 'n enorme hupstoot te gee.
Budricks het verduidelik dat die tender op 23 September geadverteer was. Dit sal die herseël, herbou, plavei, asook installering van randstene en stormwater infrastruktuur, waar benodig, insluit.
Die tender dien eersdaags by die tender toekenningskomitee en word in vier projekte opgedeel, naamlik
- Projek 1: Albertinia, Gouritsmond en Melkhoutfontein;
- Projek 2: Stilbaai en Jongensfontein;
- Projek 3: Riversdal en
- Projek 4: Heidelberg, Witsand en Slangrivier.
"Konstruksie sal in Januarie 2021 begin sodra die 21-dae appèlperiode verstryk het. Al die bouprojekte sal teen 30 Junie 2021 voltooi wees."Budriks verduidelik Hessequa beskik oor nagenoeg 300km teerstrate en instandhouding bly 'n reuse uitdaging. "Herstelwerk word hoofsaaklik met groot sukses deur interne instandhoudingspanne gedoen. Die publiek se geduld word waardeer tydens die herstelwerk."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'