Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Anthea Rossouw is die ystervrou van dié dorpie.
Net sodra jy dink sy het by die Dreamcatcher Foundation op die dorp vasgeval, is sy in die buiteland met fondsinsameling vir haar gemeenskapsprojekte besig.
Anthea is op Oudtshoorn in die Klein Karoo gebore en bly sedert 2007 op Melkhoutfontein, maar is reeds van 1986 in die gemeenskap betrokke.
Terwyl sy nog op Oudtshoorn op skool was, het sy Sondae die hospitaal besoek en het veral tyd in die kinderafdeling deurgebring, waaroor baie ouer persone ontsteld was, vertel sy met 'n glimlag.
Sy vertel dat 'n gesprek en toer wat wyle Moos Kleinhans hier opgeneem het met die versoek om hulp uit die gemeenskap te kry omdat mense swaargekry het, haar diep geraak het.
Die oordra van kennis is vir haar 'n passie en sy is nou by gemeenskaps-uitreikaksies soos ontwikkeling en opleiding om werkloses -veral vroue en die jeug - te bemagtig, betrokke. Sy fokus veral op toerisme waarby gemeenskappe op grondvlak as entrepreneurs kan baat. Sy deel ook graag kennis oor sake soos die hantering van vullis en omgewingsbestuur, sodat mense in die gebied waar hulle bly, bemagtig word.
Sy hou haarself met gemeenskaps-gebaseerde toerisme en ervarings besig, asook entrepreneurskapsgeleenthede wat daarby aansluit, waaronder Homestays in 16 gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Sy was destyds by die stigting van Stilbaai-toerismeburo wat die eerste geakkrediteerde toerismeburo volgens die nuwe Wes-Kaap voorskrifte was betrokke, en was ook medestigter van Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum, Stilwaters en Soeterus-aftreeoord en was vir jare die bestuurder van hierdie instansies.
Die gemeenskap lê haar baie na aan die hart. Sterre vonkel in haar oë wanneer sy oor hulle praat. Sy glo die kwaliteit van ons môre sal deur die jeug van vandag bepaal word. Daarom is sy baie bly oor die aantal jong mense wat na skool gaan studeer, of steeds studeer.
''Ek het mooi na Nelson Mandela se versoek in 1994 dat ons hande moet vat om te help dat die lewe beter kan word vir al die mense geluister. Dit is maar my beskeie deel om iets te doen en nie net te praat nie. Dit is my aard."
As gemeenskapsleier is sy baie entoesiasties oor volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling en omgewingsrehabilitasie.
Rossouw bring haar vrye tyd in die natuur deur, lees en reis wanneer sy kan en besoek gemeenskappe om die mens en sy wêreld beter te verstaan. Sy doen ook naaldwerk en kook graag. Selfs al is die lewe partykeer stresvol, vind sy steeds tyd om dit te geniet.
Die grootste les wat sy in die lewe geleer het is: ''Wat jy op aarde bymekaarmaak kan jy nie saamneem as jy dit verlaat nie - wat jy van jouself gee terwyl jy nog lewe, dit is wat agterbly."
Die boodskap wat sy vir die gemeenskap wil oordra is: "Moenie vir iemand daar bo of elders wag om jou te help om 'n probleem te oorkom nie. Begin by jouself om die probleem om te draai in 'n geleentheid.''
Vorige artikel: Haar hart klop vir die gemeenskap
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'