STILBAAI NUUS - Die Community Animal Rescue Society (CARS) hou Saterdag 20 Julie ter viering van Mandela-dag 'n inentingsdag vir katte en honde.
Dr. Pierre du Bruyn sal van 08:00 tot 12:00 by die gemeenskapsaal wees om die troeteldiere in te ent.
"Ons verskaf die diens aan behoeftige lede van die gemeenskap, soos werklose persone, pensioenarisse, individue met 'n inkomste van minder as R5 000 per maand of getroude pare met 'n gesamentlike inkomste van minder as R7 500," sê Sandra Lotz van CARS.
Mense wat van die diens gebruik wil maak, moet 'n identiteitsdokument, munisipale rekening as bewys van woonadres, en 'n bewys van inkomste saambring. 'n Fooi van R75 per dier is betaalbaar.
"Dis baie belangrik om jou kat teen katgriep (parvo) en jou hond teen hondesiekte (distemper) te laat inent. Veral hondesiekte is hoogs aansteeklik, en indien jou hond nie ingeënt is nie, kan hy/sy dit opdoen en of versprei, wat tot grootskaalse vrektes kan lei."
Volgens haar is die koste om die hond te red baie duur en dikwels onsuksesvol.
Sy nooi die gemeenskap om versnaperings vir die veearts en sy vrywilligers op 'n koue wintersoggend by te dra.
Kontak Lotz by 028 713 4362 of 082 962 1831 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'