HESSEQUA NUUS - 'n Massa-sterilisasieveldtog is onlangs in die streek van stapel gestuur waar bykans 600 diere gesteriliseer sal word.
Dancers with Dogs van Kaapstad het met hul opvoerings geld ingesamel wat hulle dan aanwend om honde en katte te laat steriliseer.
Volgens Sandra Lotz, voorsitter van Community Animal Rescue Society (CARS) het dié organisasie die Hessequa-gebied gekies waarin die geld vir sterilisering aangewend gaan word.
"So 'n groot veldtog is nog nooit in ons gebied geloods nie. Dit is wonderlik om te sien hoe mense saamwerk en hoeveel mense en diere hierdeur geraak word," het Lotz gesê. Die beplande sterilisasie sal weer Maandag 12 tot Vrydag 16 November in Albertinia plaasvind en weer vanaf Maandag 3 tot Vrydag 7 Desember moontlik in Slangrivier of Heidelberg. Dr. Annelize Roos van EnviroVet CVC in samewerking met CARS het die projek op Maandag 6 November op Gouritsmond geloods.
Roos is druk besig en steriliseer tot 45 diere per dag. Volgens Lotz werk die gemeenskap goed saam met hulle en koördineerders help om die diere se eienaars te laat weet wanneer die veearts beskikbaar sal wees. Meeste diere word self deur vrywilligers gaan haal en weer teruggeneem huis toe.
Cardo Swarts, Riaan Alexander, Audry Lacy, Tinka Small, Tania de Jager, dr. Annelize Roos en René de Wet. Dié koek is spesiaal deur De Jager gebak. Foto: Mariska Visagie, korrespondent
EnviroVet CVC is 'n satelliet gemeenskap veeartskliniek wat onder die sambreel van South African Veterinary Association Community Veterinary Clinics (SAVA) werk. Die SAVA-inisiatief is in 1998 van stapel gestuur om primêre gesondheidsorg in behoeftige gemeenskappe in Suid-Afrika te bevorder wat nie toegang tot privaat veeartse het nie. Roos het in 2011 EnviroVet CVC begin en het tot vandag 'n toegewyde en bekwame span.
"Ek wil almal bedank wat tot dusver gehelp het om hierdie projek 'n sukses te maak. Dankie dat julle help om soveel liefdevolle diere te versorg en spoedig te laat herstel.
"Dankie aan Audrey Lacy, Aletta en Tinka Small van Albertinia wat gehelp het om die projek in werking te stel," het Roos gesê. Tania de Jager het 'n pragtige sjokoladekoek in die vorm van 'n hond gebak om vir die EnviroVet-span te wys hoe baie hulle die harde werk van dié span waardeer.
Vir enige verdere inligting skakel Sandra Lotz by 082 962 1831.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'