ALBERTINIA NUUS - 'n Man van Albertinia is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms nadat die polisie- en buurtwaglede op 'n wenk gereageer het.
Konst. Deon Booysen, 'n reservis, en Claude Jordaan, 'n buurtwaglid, het die verdagte in Theronville in hegtenis geneem ná daar 69 Mandrax-tablette en 'n banksakkie tik in sy besit gevind is.
Die verdagte het reeds op 'n klag van dwelmhandel in die Riversdal-landdroshof verskyn.
Kapt. Susan Botha, stasiebevelvoerder van die plaaslike polisie in Albertinia, het die polisie en buurtwaglede bedank vir hul vinnige reaksie op die wenk en die arrestasie van die verdagte.
Regstelling: Die drukkersduiwel het toegeslaan toe daar op die Forum se aanlynplatform verkeerdelik berig is dat konst. Deon Botha en Claude Jordaan (buurtwaglid) vir die besit van dwelms gearresteer is.
Dié tweemanskap het inderdaad op 'n verdagte in Albertinia toegeslaan en gearresteer. Albei is steeds "op vrye voet" besig om misdaad te bekamp. Ons vra om verskoning vir die glips.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’