HEIDELBERG NUUS - 'n Middeljarige man het homself na bewering Saterdagmiddag, 3 Oktober in die selle by Heidelberg-polisiestasie gehang.
Die oorledene, die 51-jarige Jan (Bakkie) Esau van Slangrivier is in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou, Maria, se klere verbrand en haar aangerand het.
Volgens Maria het sy Vrydagaand by sy niggie gaan oorslaap omdat hy weer met haar perform het - soos dit maar was wanneer hy gedrink het.
Haar buurvrou het haar vroeg die volgende oggend kom vertel dat Jan haar klere verbrand het. Hy het kort daarna daar aangekom en haar beveel om saam met hom huistoe te gaan.
"Ek het hom eers gevra of hy my klere uitgebrand het, waarop hy my nie geantwoord het nie. Ek is toe saam met hom huistoe, en dit was so."
Maria het Jan se neef gevra om die polisie te ontbied toe hy weer moeilik geword het.
Die polisie het haar later die dag in kennis gestel dat Esau homself gehang het. Volgens Maria het hy 'n vorige keer toe hy in die tronk op Buffeljagsrivier was, sy polse gesny.
Buiten sy vrou laat Esau twee dogters, 'n seun en 'n kleinseun agter. By navraag het kapt Malcolm Pojie, polisiekommunikasiebeampte gesê 'n dossier is geopen.
"'n Aangehoudene is Saterdagmiddag, 3 Oktober ongeveer 15:25 dood agter die seldeur aangetref waar hy gehang het. Die ontdekking is gemaak toe lede selbesoek gedoen het. Geen gemene spel word vermoed nie."
Pojie het bygevoeg dat die oorledene vir oproerige gedrag in hegtenis geneem is.
Die saak word deur die onafhanklike polisieklagtedirektoraat (Opod) ondersoek.
Jan Esau se familie is van links Dorothea Saayman en Elizabeth Esau (albei susters), Maria Esau (eggenote), Lourens Esau (broer) en Dawid Saayman (swaer). Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'