RIVERSDAL NUUS - Die Makadas-stoomlokomotief is onlangs opgeknap en op Woensdag 15 Mei opnuut ingewy.
Louise du Plessis, kurator van die Julius Gordon Africana Sentrum was een van die eregaste en sprekers. Sy het vertel watter positiewe uitwerking dié instandhouding op toerisme vir die dorp het.
Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het in samewerking met Hessequa-munisipaliteit 'n projek van stapel gestuur om dié lokomotief op te knap. Beth Paine, voorsitter van die GPF het gesê: "Eindelik het die dag aangebreek waarop Riversdal-GPF, in samewerking met die munisipaliteit, die inhuldiging van die opgeknapte Makadas-lokomotief met 'n spoggeleentheid kan vier. Die gemeenskap moet kan sien dat daar samewerking en 'n goeie vennootskap tussen ons om hul veiligheid te verseker, want die lokomotief was 'n wegkruipplek vir oortreders."
Hendrik Saayman (88), 'n inwoner en eregas, was 30 jaar lank 'n treinbestuurder. Hy het destyds 'n toekenning vir 30 jaar ongeluksvrye diens ontvang. Saayman het agt jaar lank op die hooflyn tussen Kaapstad en Johannesburg gewerk, asook op die Oranje-sneltrein. Hy het staaltjies vertel oor die werking van 'n lokomotief en van die ervarings wat hy beleef het. "Ek glo nie julle kon iemand nooi wat dit meer as ek waardeer nie.
"Dit is 'n misdaad teen die mensdom dat treine nie meer loop soos wat hulle geloop het nie."
Leerders van verskeie skole het gedeeltes van die lokomotief se geskiedenis voorgelees. Eddie Jantjies het 'n sangitem gelewer, terwyl Bernard Fielies 'n gedig, wat hy spesiaal oor Makadas geskryf het, voorgedra het. Du Plessis het gesê dat dié gedig vergroot, geraam en in die museum uitgestal sal word. (Lees die gedig op ons brieweblad).
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van die Hessequa-streek, het die GPF en almal wat die projek betrokke was, bedank.
Bernard Fielies, die digter.
Hendrik Saayman met sy toekenning van 30 jaar ongelukvrye diens as treindrywer en 'n foto van 'n lokomotief wat hy destyds bestuur het, staan by die opgeknapte Makadas.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'