Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Vyf lede van die Rhythmic Thunder lyndansers van Riversdal het besluit om Saterdag, 19 September die dorp se inwoners net so 'n bietjie op te beur na die moeilike jaar.
Volgens Zanette Bothma, Riekie Coetzer, Venessa Slater, Ilze Venter en Heidi Cronjé was die idee om die mense vir 'n oomblik van hul probleme te laat vergeet en iets prettigs te doen.
"Ons het reeds voor president Cyril Ramaphhosa se versoek dat almal die Jerusalema Donderdag sal dans, die flash mob beplan," vertel Cronjé. "Veral die bejaardes by die Ou Meule-tehuis het dit broodnodig gehad.
"Hulle kon ons nie genoeg na die tyd bedank nie. Ek dink nie mense kan eers begin verstaan hoe erg dit moet wees om vir so lank ingehok te moet wees, sonder enige verandering aan roetine nie, al is dit vir hul eie beswil."
Die groep het nie net voor Ou Meule gedans nie, maar oral in die dorp - onder meer by Jan Lange-tehuis, die dorpsplein en munisipaliteit.
Die Jerusalema is 'n geestelike lied waarin gevra word dat die Here ons sal dra, ons vir Sy hulp vra en nie sonder Hom deur hierdie moeilike tyd kan kom nie.
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: Lyndansers doen Jerusalema
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'