Update
RIVERSDAL NUUS - Uitspraak in die lang uitgerekte Louw Saayman-sage is ná bykans nege maande gelewer.
Louw Saayman, bestuurder: inkomste van Hessequa-munisipaliteit, is ná 'n interne tugverhoor skuldig bevind aan wangedrag.
Dié tugverhoor was op 16 en 17 Mei.
Die voorsittende beampte, Johan Kapp van Swellendam-munisipaliteit se menslike hulpbronne afdeling, se aanbeveling (sanksie) was dat Saayman ontslaan word. Sy laaste werksdag was op Donderdag 29 Junie.
Hy het in 2008 by die munisipaliteit in dieselfde hoedanigheid ingeval, 'n pos wat hy vir meer as 15 jaar beklee het.
Saayman is in Oktober 2022 tydelik geskors as voorsorgmaatreël hangende die uitslag van 'n ondersoek. Dit volg nadat 'n fluitjieblaser alarm by die ANC se Hessequa-leier, Christopher Taute, gemaak het waarin hy glo bewyse voorgelê het dat Saayman voorafbetaalde elektrisiteit van etlike "duisende rande" na sy eie rekening en dié van ander personeel oorgeplaas het.
Die Kaapse maatskappy Gridd, is genader om Saayman forensies te ondersoek en het hom in April vanjaar onskuldig bevind aan enige finansiële wangedrag.
Hy het aan Suid-Kaap Forum vertel hy is 'n eerbare, openlike en opregte mens wat nie 'n sent sal vat van iemand nie. "Dis my leuse en dis soos ek dit uitleef. Vra enigiemand wat my ken.
"Die forensiese ondersoek het ook duidelik bewys dat die munisipaliteit nie 'n sent skade gelei het nie."
Maar, vertel Saayman, die munisipale raad het toe besluit om 'n interne verhoor teen hom te hou en te ondersoek of hy die integriteit en kredietwaardigheid van die munisipaliteit geskaad het. Altesame sewe klagtes is teen hom ondersoek en hy is op vier skuldig bevind. Een uitkoms was dat die munisipaliteit geen verlies of skade gelei het weens sy aktiwiteite met voorafbetaalde elektrisiteit nie.
Saayman is onskuldig bevind op drie aanklagte: dat hy sy posisie misbruik het; dat hy 'n lening aan homself toegestaan het; en dat hy lenings aan ander personeellede toegestaan het.
Die vier klagtes waarop hy wel skuldig bevind is, is dat hy die munisipaliteit se integriteit en kredietwaardigheid (dit word twee maal voorgehou) geskaad het en dat hy voorafbetaalde elektrisiteit by homself en by personeel afgetrek het.
Saayman het sy loopbaan in 1983 in die staatsdiens begin, eers by die onderwysdepartement en later by die department van gesondheid, altyd in die pos van bestuurder: inkomste.
Daarna het hy vir 'n kort rukkie twee drankwinkels in Riversdal besit, maar dit verkoop en vir 'n wyle die politiek te betree voordat hy in 2008 by Hessequa-munisipaliteit ingeval het.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’