RIVERSDAL NUUS - Gerugte van politieke inmenging, korrupsie en nepotisme doen reeds geruime tyd die ronde in Riversdal en Stilbaai en verskeie inwoners het hul frustrasies op sosiale media uitgestort.
Sedert verlede week het dié praatjies skielik in felheid begin toeneem en wil dit voorkom of die bose sweer nou wil oopbars.
En weereens is dit topamptenare by die Hessequa-munisipaliteit wat onder die soeklig is.
Toe bars die bom oor die voorgestelde basiese fooiheffing van R156.75 wat 'n groep belastingbetalers, wat afgeskaal het na die 30 ampère stroombreker, voortaan waarskynlik sal moet opdok.
Dit het die speaker, Andrew Stroebel, genoop om 'n video op sosiale media te plaas op Vryheidsdag, Donderdag 27 April, waarin hy breedvoerig die besluit uiteensit. (Ons hoop om aanstaande week in meer detail hieroor te berig).
Maar wat die inwoners behoorlik aan die gons het, is die praatjies van beweerde bedrog by die verkeers-afdeling en waarvoor die adjunkverkeers-hoof, Ronald Rossouw, glo tydelik geskors is hangende die afhandeling van 'n interne ondersoek.
Die Hessequa-munisipaliteit het in antwoord op 'n navraag van Suid-Kaap Forum 'n verklaring uitgereik wat sê dié saak, soos die van sy hoof van inkomste, Louw Saayman, is sub judice en dat hulle geen verdere inligting kan verskaf nie.
Saayman is reeds in November 2022 tydelik geskors.
Suid-Kaap Forum het verneem dat hy op Vrydag 21 April intern verhoor is, maar die uitkoms daarvan is glo nog nie bekend nie. Of hy wel intern verhoor is, kon ook nie bevestig word nie.
Die korrupsiestories by die verkeersafdeling dobber nou al geruime tyd net onder die oppervlak. Daar is glo groot bedrae geld hier ter sprake, maar dit kon nie bevestig word nie.
'n Anonieme leser het wel in 'n WhatsApp-boodskap laat weet die tydelike skorsing van Rossouw is, onder andere, omdat hy na bewering glo ingemeng het met die onafhanklike interne forensiese ondersoek na korrupsie by verkeer en dat hy dit selfs glo wou verhinder of strem ("hinder").
Dié beweringe sal waarskynlik tydens sy interne verhoor uitkom.
Maar die warm patat in die munisipaliteit se midde is sprake van voorkeurbehandeling - baantjies vir boeties - met die Melkhout-fontein-behuisingsprojek en hier word Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, geïmpliseer.
In 'n skriftelike antwoord op Suid-Kaap Forum se navraag, het die munisipale woordvoerder, Dulckerine Budricks, laat weet die kantoor van die speaker is tans besig om ondersoek in te stel na 'n beweerde oortreding in terme van die gedragskode vir raadslede.
"Die aangeleentheid is tans sub judice en sal die uitkoms na afhandeling publiek gemaak word."
Suid-Kaap Forum is in besit van 'n lywige beëdigde verklaring waarin 'n voormalige raadslid van Hessequa-munisipaliteit, onder andere, verwys na "ernstige beweerde klagtes van korrupsie en inmenging oor behuisingsubsidies deur rdl. Grant Riddles."
'n Gesin van Albertinia, wat ook om 'n huis in die Melkhoutfontein-ontwikkeling aansoek gedoen het, het op 10 April by die polisie in Albertinia ook 'n beëdigde verklaring teen rdl. Riddles gaan aflê oor die Melkhoutfontein-sage.
Ernstige beweerde elemente van misdrywe is op Vrydag 14 April by die Stilbaai-polisie deur 'n inwoner van Hessequa aanhangig, ook teen rdl. Riddles, gemaak. Die bevelvoerder van die speurtak het glo geweier om die saak te registreer terwyl die dossier vir drie dae in sy kantoor toegesluit was.
Dit het gelei tot 'n betoging by die Stilbaai-polisiestasie op Dinsdag 25 April deur inwoners, waaronder verskeie ANC-lede, om 'n petisie te oorhandig en beswaar aan te teken oor hoe die saak gehanteer is.
Ná die betoging is die ernstige elemente van misdrywe se saak geregistreer waarna die klaer 'n e-pos ontvang het dat die saakdossier oorgeplaas word na die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke.
Die ondersoekbeampte in George het die klaer op 26 April per e-pos laat weet dat hulle op Vrydag 5 Mei 'n afspraak het om oor die saak te gesels.
Zinzi Hani, Wes-Kaapse woordvoerder van die Valke, het bevestig dat die ondersoek na rdl. Riddles steeds aan die gang is, maar dat hulle geen kennis dra van die korrupsieklagte by die verkeersdepartement nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’