Update
HESSEQUA NUUS - Die berig op Suid-Kaap Forum se voorblad oor die skorsing van 'n senior munisipale amptenaar en lid van die DA (Vrydag 18 November) hangende 'n ondersoek teen hom, het groot reaksie op Facebook uitgelok.
Trouens, dié nuusberig het die meeste reaksie nóg vanjaar by lesers uitgelok. Die skorsing is ook druk bespreek in winkels, restaurante en selfs op straat en is 'n aanduiding van die belangstelling wat dit gaande gemaak het en steeds maak.
Dit was te wagte.
Die inwoners van Hessequa en die res van Suid-Afrika verwag skoon administrasie en goeie dienslewering. Waarde vir hul geld en waarborge dat belastinggeld nie roekeloos vermors word nie, maar tot voordeel van die gemeenskap aangewend word.
In Suid-Afrika is 64 munisipaliteite heeltemal disfunksioneel, 151 op die rand van ineenstorting, met meer as 250 wat onder finansiële druk is.
In daardie opsig is Hessequa deel van 'n klein groepie munisipaliteite landwyd wat sorg dat hul dorpe skoon is, feitlik geen slaggate het nie en dat vullis nie ophoop en riool in die strate afloop nie.
Dis van die pluspunte waaroor belastingbetalers dankbaar behoort te wees. Natuurlik is daar probleme en talle klagtes, maar minstens word inwoners nie blootgestel aan die dilemmas waaronder miljoene Suid-Afrikaners daagliks onderwerp word nie.
Daarom is dit bemoedigend dat Hessequa-munisipaliteit wel bereid is om 'n proses te loop om die gebeure wat gelei het tot die skorsing van Louw Saayman, sy hoof van inkomste, te ondersoek.
Op sy jongste raadsvergadering Woensdag is 'n agendapunt "dissiplinêre komitee" waar daar waarskynlik besluit gaan word oor die pad vorentoe wat betref die Saayman-sage.
Op 'n navraag Vrydagoggend, 18 November, aan Hessequa-munisipaliteit of hulle kommentaar wil lewer oor die voorbladberig in Suid-Kaap Forum en of ons Saayman 'n geleentheid kan gee om sy kant van die saak te stel, het die munisipaliteit by monde van Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge en administrasie, as volg geantwoord: "In terme van die wet op die bevordering van persoonlike inligting, is mnr. Saayman se kontakbesonderhede persoonlike inligting wat deur die munisipaliteit beskerm moet word.
"Die saak is sub judice en kan geen verdere inligting aangaande die ondersoek verskaf word nie."
Hul kommentaar op 'n verdere navraag op Woensdag 23 November oor of die munisipaliteit wel 'n eksterne ondersoek deur onafhanklike forensiese ondersoeker(s) of ouditeur(s) gaan aanpak, was as volg: "Die saak is sub judice en geen verdere inligting aangaande die ondersoek kan verskaf word voordat die saak nie gefinaliseer is nie."
Vorige artikel: Skorsing laat tonge klap
'Ons bring jou die nuuste Hessequa nuus'