Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Lede van die FAK-Riversdal-Kultuurnetwerk en 'n paar gaste het Saterdag, 19 Februarie by die historiese Meurant-begraafplaas in Riversdal byeengekom om hulde te bring aan Louis Henri Meurant 210 jaar ná sy geboorte.
Die FAK het ’n nuwe granietsteen by die graf gelê waarop die naam van die eerste boek in Afrikaans in 1861 aangebring is en waarvan Meurant die outeur was.
Elizma Smith, projekorganiseerder van die kultuurnetwerk in die Kaap vertel dat hierdie herdenking en die lê van ’n nuwe gedenksteen Meurant se besonderse bydrae tot Afrikaans bevestig.
Nadat die lede Saterdag eers die graf skoongemaak het, het ’n huldigingsgeleentheid gevolg. John Jackson, bekende inwoner van Riversdal, het die geleentheid met gebed geopen en ’n praatjie oor die lewe en werke van Meurant gelewer. Die nuwe steen is deur drie lede van die Riversdal-FAK-Kultuurnetwerk gelê.
“Louis Henri Meurant is op 19 Februarie 1812 in Kaapstad gebore. In sy leeftyd was hy ’n gedekoreerde krygsman, tolk, akteur, parlementariër, landdros, joernalis en tuinboukundige, maar dit was as skrywer in Afrikaans waarvoor hy vandag veral onthou word. As joernalis het hy hom intensief beywer vir mediavryheid in ’n tyd toe dit aan bande gelê was, asook die vestiging van Afrikaans as skryftaal reeds voor die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875.
“Toe Louis vier jaar oud was, is sy moeder oorlede en teen 14 was hy ’n weeskind toe sy vader afgesterf het. Die bure, ’n Nederlands-Afrikaanse familie, Marten en Francina Smit het Louis onder hul sorg geneem en so het hy Afrikaans aangeleer. Sy vader het reeds voor sy dood voorsiening gemaak vir ’n toekoms vir sy seun toe hy £300 aan George Grieg, die eerste onafhanklike drukker in Suid-Afrika, gegee het vir die aankoop van ’n drukpers in ruil vir opleiding aan Louis in die drukkersbedryf.
“’n Loopbaan in die joernalistiek het gevolg. Meurant het by verskeie koerante aanvanklik as joernalis, maar later ook as redakteur en uitgewer gewerk. Hy was onder meer die stigter van die Grahamstown Journal. Hy skryf talle artikels vir koerante in Afrikaans en maak gebruik van verskillende skrywersname soos Klaas Waarsegger, Platjie Wysneus, Sabiena Zeekoeygat en Elsie Beuzemstok,” vertel Smith.
In 1860 het ’n taalstryd tussen die westelike en oostelike distrikte van die Kaapse kolonie ontstaan. In die ooste het die Engelse Afrikaneroorheersing deur die weste gevrees en wou van die weste afskei.
Meurant tree toe tot die stryd en publiseer onder die skrywersnaam Klaas Waarsegger ’n samespraak tussen Klaas en “Jan Twyfelaar” in hul eie taal Afrikaans in The Cradock News.
Hierdie samespraak raak so gewild onder lesers dat die verkope van die koerante buitengewoon toegeneem en daartoe gelei het dat die uitgewers ’n aparte blad, Het Cradockse Nieuwsblad, begin en waarin die samespraak voortgesit is.
Meurant se stukke is oorgeneem deur ander Hollandse of tweetalige koerante soos De Zuid-Afrikaan en Het Volksblad wat dit in Afrikaans gepubliseer het.
Op 6 April 1861 word ’n aparte boek met die titel Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie, bekendgestel. Hierdie publikasie word die heel eerste boek wat in Afrikaans verskyn.
FOTOGALERY: FAK-Riversdal-Kultuurnetwerk bring hulde aan Louis Henri Meurant
FAK-Kultuurnetwerke in gemeenskappe bied aan inwoners met 'n passie vir die Afrikaanse taal, geskiedenis en erfenis die geleentheid om hierby betrokke te raak in hul eie gemeenskappe.
Indien jy wil aansluit by die Riversdal-FAK-kultuurnetwerk kontak Elizma Smith (elizma@kultuurtuiste.org.za) of jy kan as vriend van die FAK aansluit by www.fak.org.za en so 'n bydrae tot die bewaring en uitbou van ons erfenis lewer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'