HESSEQUA NUUS - Meeste mense se lont vir vuurwerke afvuur word vanjaar kortgeknip nadat Hessequa-munisipaliteit streng reëls vasgestel het.
Vuurwerke veroorsaak herhaaldelik probleme, veral in streke waar dit baie droog is.
In dié streek is dit nie net dier nie, maar ook mens wat negatief deur vuurwerke geraak word. Plesier het verlede jaar op Stilbaai gedurende die feesseisoen vinnig in 'n noodgeval verander nadat iets wat soos 'n noodfakkel gelyk het, in 'n veld naby Hoofweg-Wes beland en 'n brand veroorsaak het.
Vanjaar sal afvuur van vuurwerke slegs by goedgekeurde gebiede in Hessequa toegelaat word. Geen persoon mag enige vuurwerke buite dié gebiede afvuur nie.
Chinese-lanterns word in terme van toepaslike brandweer wetgewing totaal regoor die streek verbied. Munisipale bestuurder, Johan Jacobs het gesê: "Persone wat vuurwerke op 'n nie-goedgekeurde gebied afvuur, sal met R1 000 beboet word."
Vuurwerke word nie by Gouritsmond, Jongensfontein, Witsand en alle blouvlagstrand gebiede toegelaat nie.
In goedgekeurde gebiede mag dit slegs tydens Oujaarsaand, 31 Desember en Nuwejaar 1 Januarie vanaf 23:00 tot 01:00 afgeskiet word.
Hessequa vuurwerkgebiede:
- Riversdal: Riversdal-rugbyveld en Riverville-stadion
- Melkhoutfontein: Speelpark in Ericarylaan
- Albertinia: Die Brak
- Heidelberg: Heidelberg-rugbyveld
- Slangrivier: Sportterrein
- Stilbaai: Hawe vanaf die wit hekke in 'n oostelike rigting, ingesluit die sandstrand gebied. Lappiesbaai (swemstrand uitgesluit) slegs heel regs van die restaurant tot by die riviermond.
Die Hessequa 24 uur noodnommer is 028 713 2222 en kan geskakel word om die misdryf van vuurwerke, vloede, brande of ongelukke aan te meld.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'