HESSEQUA NUUS - Een van die grootste ekonomiese kopsere as gevolg van grendeltyd is die oorlewing van kleiner besighede.
Stilbaai-sakekamer het die bul by die horings gepak en 'n projek om die hele Hessequa-ekonomie te help, begin.
Hoewel die Still Buy Local-veldtog met die kusdorp se besighede afskop, hoop hulle om dit na die hele streek uit te brei. Volgens die voorsitter, Rachel Wall, wil hulle hiermee die plaaslike ekonomie stimuleer om nie net staande te bly nie, maar ook te groei.
Benewens 'n volledige en opgedateerde besigheidsgids wat op hul webwerf beskikbaar sal wees, beoog hulle onder meer ook om 'n aanlynplatform waar sakelui en gemeenskap mekaar kan ontmoet en besigheid doen, te skep.
As deel van die projek maak hulle tans 'n opname van watter produkte nie plaaslik beskikbaar is nie, wat veroorsaak dat mense hul geld in ander dorpe spandeer.
Die webskakel na die vraelys kan by tertius@haakmail.co.za gekry word.
Wall en haar span het op Vrydag 8 Mei ook 'n voorlegging vir die verslapping van vlak 4-inperkingsmaatreëls vir meer sakesektore by die Hessequa munisipale raad ingedien. Hulle glo hul risiko-gebaseerde voorstelle kan help om die druk op besighede se kontantvloei te verlig.
Kontak die sakekamer by admin@stilbaaibusiness.co.za vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'