HEIDELBERG NUUS - Die Vereniging vir persone met gestremdhede (VPG), meer algemeen bekend as APD, het 'n skenking van 'Little Angels Help Centre and Childcare', 'n nie-winsgewende organisasie van Vishoek op Vrydag 9 Februarie ontvang.
Little Angels reik op verskillende maniere uit na die gemeenskap en het sy ontstaan deur die Van Rensburg-familie in 1997 gehad toe hulle weggooi- en HIV-babas in hulle familiehuis begin inneem het.
Meer as 300 babas en kinders was al in hulle sorg en 'n paar het permanente familielede geraak.
Die organisasie het VPG genader omdat hulle 'n spesifieke apparaat gehad het waarby hulle kan baat vind.
Dit kan gebruik word om 'n verlamde persoon uit 'n bed op te tel en ook in 'n bad of stoel neer te sit.
Daar is 'n hangmat onder die verlamde wat aan die hyser haak, asook wiele waarmee die persoon rondbeweeg kan word en die versorger se taak vergemaklik.
VPG is ook 'n nie-winsgewende organisasie wat aan die gemeenskap dienste bied wat hulp vir gestremdes, deur middel van toerusting en apparate, insluit.
Die toerusting word aan die gemeenskap teen 'n donasie verhuur.
Hulle is afhanklik van insamelings en skenkings en word deur vrywilligers bestuur.
Volgens die voorsitter, Nina Bösel is dit die omgee vir mekaar wat die VPG op Heidelberg aan die gang hou.
Nina Bösel ontvang die nuwe aparaat vir verlamdes by Jacques van Rensburg van Little Angels.
"Dis 'n voorreg om die voorsitter te wees. Dankie aan al die omgeemense, want sonder julle sou ons nie die gemeenskap kon help nie."
Die uitleen van apparate kan ook deur persone wat operasies en beserings gehad het, by die VPG afgehaal word.
Kontak Bösel by 028 722 1933.
ARTIKEL & FOTO: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'