Update
HESSEQUA NUUS - Dit is met skok dat die Hessequa-gemeenskap van Liesel Kasselman (52) se afsterwe op Sondag, 7 Maart as gevolg van Covid-19 verneem het.
Liesel is in Caledon gebore, het by Paarl Girls High matrikuleer en aan die Universiteit Stellenbosch B Rek studeer (HOD).
Sy is op 11 Desember 1992 met Kassie getroud en uit die huwelik is twee seuns, Johannes (25) en Lawrence (23) gebore. Albei werk tans in die Kaap. In 1993 trek hulle na Stilbaai en in 2000 na Soebattersvlakte, die familieplaas.
In daardie stadium, was Liesel 'n onderwyseres, maar toe gee die Wes-Kaapse onderwysdeparte-ment hulle kennis vir die skooltjie op die plaas.
Boonop het die groot melkkopers ook begin om vir die kleiner melkboere van die gebied kennis te gee omdat dit nie meer vir hul lonend was om hul melk op te laai nie. Dit het onder meer aanleiding daartoe gegee dat die kaasfabriek op die been gebring is.
In 'n artikel wat op 20 April 2018 in Vrouekeur verskyn het, vertel Liesel: "Kassie se oudste broer Willem, 'n meganiese ingenieur het 'n sabatsjaar in Stilbaai met sy gesin begin. Bogenoemde drie feite het die Here gebruik om 'n kaasfabriek op die been te bring.
"Gerhard, Kassie se ander broer, met al sy ondervinding en kennis in die suiwelbedryf, sluit by sy twee broers aan en saam met hul pa, Johannes Kasselman, begin die vier manne die hoop van 'n Kasselman - Kasselshoop."
Hierdie beriggie in Suid-Kaap Forum was een van die baie uitreike waarmee Liesel betrokke was.
Liesel was die eienaar van Old School @ Kasselshoop-proelokaal en kaaswinkel. Dit is waar sy haar in die gemeenskap uitgeleef het met #thewheyforward waar sy kleiner entrepreneurs gementor en hulle produkte ten toon gestel het.
Hier het sy ook met ander besighede in die omgewing saamgewerk om die gemeenskap se toerisme te bevorder.
Liesel het baie vir die bevordering van Stilbaai-toerisme gedoen. Sy het altyd met borgskappe aan organisasies gehelp en geborg waar hulle dit kon bybring. Sy was ook nou by Stilbaai-sakekamer betrokke. Jeremia 29:11 het vir haar op Kasselshoop waar geword.
Haar aanlyn-troosdiens vind Vrydag, 12 Maart om 14:00 plaas. Die aanlynskakel sal op Kasselshoop Cheese se sosiale media geplaas word.
Vorige arikel: Bekende besigheidsvrou se dood laat groot leemte
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'