RIVERSDAL NUUS - As jy by Tannie Dina se huis aankom word jy begroet met watertand kosgeure. Vandag is dit vetkoek met kerriemaalvleis en gemengde groente.
Dina Eveline Pernell (63) van Kwanokuthula se liefde vir kook is die dryfveer wat haar laat besluit het om vir hulpbehoewende kinders en bejaarde mense kos te maak.
Jongmense lê haar na aan die hart en sy help graag waar sy kan, omdat baie jonges werkloos is en nie kos het nie.
Tannie Dina is oorspronkilik van Riversdal, maar na 'n tyd in Grabouw, het sy, haar man en hulle drie seuns verlede jaar na Riversdal teruggetrek.
Haar lewe lank was sy lief vir kosmaak en sy het oor die jare haarself geleer om allerhande verskillende disse te maak.
Plaaslike welsyn-werkers het van haar te hore gekom en gevra of sy kans sien om vir die mense in Kwanokuthula te kook. Sy was baie opgewonde en het die aanbod dadelik aanvaar. Sy lewer hierdie diens gratis.
Tannie Dina Pernell by 'n lieflike pot vetkoek.
Leë magies
Die kinders kry drie dae per week kos en bring hulle eie bakkies.
"Die kleiner kindertjies se ouers moet hulle vergesel om te help met die kos soos sop wat hulle handjies kan brand."
Die behoefte groei daagliks en sy sê hulle sal moet probeer om elke dag kos te voorsien. Haar basiese kosbestandele, gas en krag word deur die plaaslike welsyn voorsien en sy kry ook skenkings van Riversdal se gemeenskap, wat baie help.
Tekort
Op die oomblik leen sy toerusting by inwoners maar sy wil graag haar eie kookgoed hê. Haar stoof het gebreek en hieroor is Tannie Dina baie hartseer, want nou is sy aangewese op 'n tweeplaatstofie.
Die stofie is deur 'n weldoener aan haar geleen tot sy weer 'n stoof kry. Sy noem ook dat sy graag 'n kisvrieskas wil hê vir vleis en groente.
"Nou moet ek by ander mense gaan vries en ek hou nie daarvan nie," sê sy.
Die kombuis is deur die munisipaliteit goedgekeur, maar kort 'n paar opknappings.
Tannie Dina het 'n ordentlike stoof en oond nodig.
Tannie Dina wys trots na die geskiktheidssertifikaat vir haar perseel wat sy van die munisipaliteit gekry het. Daar is egter 'n paar voorwaardes wat sy moet nakom. "Die dak moet geverf word, teëls moet gelê word en 'n tapyt kort in die kombuis, maar ek bid vir dit."
Om haar oumenspensioen aan te vul, doen sy naaldwerk. Na die dag se kook maak sy sakkies vir wasgoedpenne, gordyne en badkamerstelletjies.
Tannie Dina is positief oor die toekoms en sê skenkings word opreg waardeer.
Al het Tannie Dina nie baie nie, kla sy glad nie.
'n Trotse vrou wat elke dag voluit leef en haar werk terdeë geniet.
Tannie Dina doen naaldwerk vir 'n ekstra inkomste.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'