Gallery Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die Vrye Weekblad Boekefees wat vanaf 25 tot 27 Februarie by die pragtige Baptiste-kerkie hoog bokant die Goukourivier in Stilbaai plaasgevind het, het met 'n baie interessante gesprek afgeskop.
Max du Preez en Anneliese Burgess, mederedakteurs van die Vrye Weekblad, Anastasia de Vries, lektor by UWK en dr Piet Croucamp, politieke kommentator het gesels oor lewe aan die Suidpunt en hoe "ons survive met 'n helse lot pyn in hierdie land", soos Johannes Kerkorrel dit meer as 20 jaar gelede al gestel het.
Die gesprek het bly draai rondom die ANC en sy onvermoë om die land te regeer. Croucamp het gesê dat vir die ANC om in 2024 50% van die stemme te kry, hy ongeveer een miljard rand benodig vir registrasie en die verkiesingsveldtog, geld wat hy nie het nie.
"Konsensus is dat hulle nie 50% van die steun gaan kry nie en dat koalisiepolitiek ons voorland is. Hulle sal egter 'n hele paar provinsies behou en so nog 'n krag bly."
Die sprekers was nie heeltemal eens oor wie sal regeer nie, maar Herman Mashaba se naam is redelik prominent gebruik.
FOTOGALERY: Vrye Weekblad Boekefees op Stilbaai
De Vries het gesê dat haar bekommernis is dat die stem van die kerk stil geraak het.
Saterdag se gesprekke het afgeskop met Deborah Steinmair, skrywer, boekjoernalis en redakteur by Protea Boekhuis en Frederik de Jager, gewese uitgewer en nou manuskripleier en mede-eienaar van The Talking Table, wat skryfkursusse in Suid-Afrika en Griekeland aanbied.
Hulle was dit eens dat Covid-19 dit moeilik gemaak het omdat skrywers en redakteurs slegs aanlyn kon kommunikeer.
VIDEO - Boekefees met Max du Preez:
Gewilde leesstof
Volgens Steinmair verkoop misery memoirs nou goed, omdat mense swaarkry. De Jager meen dat skrywers nie sentiment melk nie, wat dan goeie verkope tot gevolg het.
"'n Boek moet jou ook nie verveel nie."
De Vries het met Juliana Coetzer gesels, wat vir die eerste keer in 2015 die aandag getrek het met Bloedvreemd, die verhaal van hul dogter, Anneke wat op sewe breinskade weens 'n virus opgedoen het. In 2021 skryf sy toe 'n opvolg.
Du Preez het met Irma Venter en Sidney Gilroy oor misdaadfiksie gesels. 36% van alle boekverkope wêreldwyd is oor misdaadfiksie en hulle was dit eens dat mense daarvan hou omdat geregtigheid normaalweg seëvier.
Elna van der Merwe het met prof PP Fourie van die Universiteit Stellenbosch oor sy debuutroman, 'n Hart is so groot soos 'n huis gesels wat verlede jaar groot opspraak verwek het. Hoewel hy dit as 'n roman geskryf het, is dit die ware verhaal van hoe sy pa hom en sy ma afgeknou en verneder het.
Die boekefees is Sondag by 'n plaaslike restaurant afgesluit met Marinda Engelbrecht en Lientjie Wessels wat met mekaar gesels terwyl hulle van hul geregte demonstreer.
Na afloop van die fees het Van der Merwe aan Suid-Kaap Forum gesê die geesdrif oor die boekefees was so goed dat hulle besluit het om dit weer te doen.
"Daar was niks wat die aandag afgetrek het nie, daar was skrywers, daar was diepte, hul boeke was te koop en daar was kos om te eet. Jy het die leser by die boek en die skrywer uitgebring en die fokus was op gehalte."
Max du Preez is in gesprek met Sidney Gilroy en Irma Venter. Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'