RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie is raadop met leerders wat verseg om skool by te woon. Dié onrusbarende tendens neem hand oor hand toe, sê adjudant-offisier Hans Busch, en word veral in die ouderdomsgroepe tussen 13 en 15 jaar ondervind.
Hy sê die polisie gaan beslis nie waghond speel en hulle oor die drosters ontferm nie.
"Ons het baie belangriker dinge om te doen as om seker te maak leerders woon wel skool by."
Busch glo die oplossing lê daarin dat die onderwysers by die onderskeie skole, ouers en maatskaplike dienste moet saamspan om die wegblyery aan te spreek.
Baie van die kinders kry Sassa-toelae en een van die vereistes is dat hulle skool bywoon.
"Die kinders wat dros en steeds toelaes kry, maak hulle skuldig aan bedrog."
Adjudant-offisier Hans Busch van Riversdal-polisie sê leerders van sekere plaaslike skole in Riversdal bly vir geen rede uit die skool en die probleem is nou besig om handuit te ruk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’