Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Drie mense, onder wie twee leerders, is beseer toe 'n bussie op pad vanaf Melkhoutfontein Primêre Skool teen 'n ander voertuig gebots het.
Volgens adjudant-offisier Morné D'Emiljo van Stilbaai-polisie het 'n trompop botsing op Donderdagmiddag, 23 Julie op die Blikhuispad tussen Melkhoutfontein en Gouritsmond plaasgevind.
"Die botsing het ongeveer 13:10 gebeur en die oorsaak word tans ondersoek. Die bestuurder van die wit Toyota-minibus en twee jong kinders wat ten tye van die botsing in die voertuig was, is per ambulans na Riversdal-hospitaal vervoer."
'n Saak van roekelose en nalatige bestuur is geopen.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement was slegs die bestuurder en een van die kinders in die hospitaal opgeneem en albei is reeds ontslaan.
Vorige artikel: Skoolkinders in ongeluk betrokke
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'