Hierdie 'High Angle Excercise' vind op maandelikse basis in 'n verskillende dorp in die streek plaas, maar volgens mnr. Jaco Pretorius van Forensies wat die dag gereël het, sal dit binnekort weer in Riversdal gehou word. Die oefening is deur altesaam 21 lede bygewoon op die plaas Mont Blanc van mnr Willie Geldenhuys. "Verskillende reddingstegnieke om 'n pasiënt te red en by te staan wat byvoorbeeld van 'n krans afgeval het en ander moeilik bekombare plekke en situasies is geoefen," verduidelik hy.
"Dit was 'n groot sukses en almal het dit baie geniet. Dit hou die lede paraat en fiks, 'n uiters belangrike aspek in die dienste wat ons lewer." Hy het bygevoeg dat heelwat mense onder die wanindruk verkeer dat veral die forensiese dienste slegs daar is om lyke te vervoer. "Hierdie lede is intensief opgelei om mediese personeel by te staan," het hy die versekering gegee.
Hierdie oefeninge is ook belangrik vir die departement van gesondheid se doelstelling om alle nooddienste te leer om 'n eenheid te vorm en hul kennis saam te gooi vir beter dienslewering aan die publiek. Pretorius bedank mnr. Geldenhuys vir die gratis beskikbaarstelling van sy plaas en geriewe.

'n Lid van die Forensiese Patalogiese Dienste gly teen 'n krans af. Inlas: Die veiligheid van ankerpunte word behoorlik geïnspekteer voor die lede by die krans afgaan.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'