ALBERTINIA NUUS - Die tussengangers van 'n dwelmnetwerk is op Woensdag 16 Augustus swaar gevangenisstraf opgelê deur die waarnemende landdros Maseti in Albertinia-landdroshof.
Denzil Prince is 'n effektiewe gevangenisstraf van 12 jaar opgelê, waar sy twee medebeskuldigdes, Zillen Vertyn en Hendry Vaaltyn onderskeidelik agt jaar effektiewe gevangenisstraf opgelê is.
Die staatsaanklaer in die aangeleentheid is adv. Herman Steyn. Die verdagtes is in Desember 2016 op Albertinia in hegtenis geneem en borgtog is suksesvol teengestaan. Vertyn en Prince was in aanhouding. Vaaltyn is vrygelaat, maar gewaarsku om hofverrigtinge by te woon. Al drie is op die hoofklagte van handeldryf in dwelms (tik en Mandrax) aangekla.
Die aktiwiteite van hierdie handelaars het 'n tydperk as gerugte die ronde gedoen. 'n Ondersoekbeampte, verbonde aan die Da Gamaskop-polisie is deur brig. Gerrit Jantjies afgevaardig om dié gespesialiseerde ondersoek te behartig.
Sers. JM Spangenberg het na die hofverrigtinge met Suid-Kaap Forum gesels: "Ek aanvaar nie die feit dat die gemeenskap tweede moet kom en ouers in vrees moet toekyk hoe smokkelaars die strate oorneem nie. Die gemeenskap kom eerste, die belange en welstand van elke inwoner van hierdie dorp was my dryfkrag agter die ondersoek. Ek is oortuig dat ons hierdie euwels; dwelm- en drankmisbruik uit die gemeenskap kan dryf as ons almal saamwerk."
Vertyn se moeder, Senobia Vertyn (54), en 'n medebeskuldigde word in die vrouegevangenis op Oudtshoorn aangehou en sal Maandag 28 Augustus in die streekhof op Mosselbaai voorkom. "Ek wil 'n spesiale woord van dank aan konst. Francois Fielies, verbonde aan Albertinia-speurtak rig. Hy het op kort kennisgewing sonder huiwering ingestem om ter verswarende getuienis tydens die vonnisoplegging op te tree."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'