RIVERSDAL NUUS - Die skool, wat vanjaar sy 75ste bestaansjaar vier, het 'n indrukwekkende geskiedenis.
Die eerste pogings tot georganiseerde onderwys in Riversdal was die stigting van die distrikskool in 1842.
Getalle het stygende en dalende tendense getoon, namate die publiek meer of minder tevrede was met die onderwysaanbieding en die gehalte daarvan.
Reeds in hierdie tyd het wit en anderskleurige kinders saam op die skoolbanke gesit, veral by die sendingskool van die Engelse kerk wat deur baie as 'n beter skool wat beter onderrig gebied het, beskou is.
Nadat die distrikskool doodgeloop het, was die kinders lank aangewese op die sendingskool wat teen die einde van die veertigerjare in onderwysbehoeftes voorsien het.
Gedurende die 1860's het 'n aantal privaat skole en sendingskole tot stand gekom. In 1863 het die regering 'n toelaag toegestaan vir die oprigting van die Jongenskool op die perseel van die ou poskantoor in Hoofstraat.
In 1870 word 'n meisieskool in 'n gebou langs die Lutherse pastorie begin. In 1871 word hierdie twee skole staatsondersteunde skole, naamlik die Hoër Seunskool en die Hoër Meisieskool.
In 1882 betrek die meisies hulle nuwe skool op die grond agter die Anglikaanse pastorie en word dit Victoria Grove genoem. In dieselfde jaar skuif die seuns se skool na waar die Langenhoven woonstelle in Van Riebeeckstraat tans staan.
CJ Langenhoven woon hierdie skool van 1890 - 1892 by en verwerf sy matriek daar. In 1906 skuif dié skool na die huidige terrein van Laerskool Volschenk.
Teen 1915 is die nuwe meisieskool, genoem Riversdale Girls High School op die terrein van die huidige Panorama Primêr gebou.
Tot en met Desember 1941 was daar twee wit skole op Riversdal, albei met primêre afdelings.
Gedurende 1940 het onderhandelings deur die onderskeie skoolkomitees plaasgevind om die voordele van amalgamasie van die twee skole te bepleit.
Dit het in Januarie 1942 plaasgevind toe die twee skole, Hoërskool Langenhoven en Laerskool Volschenk (vernoem na die bekende landskapskilder) tot stand gekom het.
Die hoërskool het na die ou meisieskool getrek, terwyl Laerskool Volschenk in die ou seunskool gehuisves is.
Mnr.JJ Botha was die eerste skoolhoof. In 1955 het Hoërskool Langenhoven na hul huidige perseel getrek.
Die ou Laerskool Volschenk is in die loop van 1967 en 1968 gesloop om plek te maak vir die nuwe geboue van die skool wat vandag nog bestaan.
Leerdergetalle was wisselvallig en staan tans op ongeveer 450 leerders.
Mnr. Danie van der Nest, huidige skoolhoof is die tiende hoof van die skool.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'