Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - KykNET se program oor topskole, Skole Top 10, het op Donderdag 13 Februarie 'n draai in Dasseland gemaak.
Elke week kry 'n skool die kans om sy top-10-musiekvideo's te versoek en bietjie meer oor sy geskiedenis en tradisies te vertel. Leerders wat die skool se waardes uitleef word ook voorgestel.
Die skool was al van vroeg af 'n bynes van opgewondenheid, vertel Estéa Venter (openbare betrekkinge-beampte).
Die leerders wat nie in die tonele betrokke was nie, het enigiets probeer om skelmpies te loer wat aangaan. Hoofseun Hendrik-Louis Fourie het behoorlik gesweet soos hy heen en weer gejaag is met 'doen dit weer met bietjie meer oortuiging' of 'kyk hierdie keer eers vir die kamera voor jy loop.'
Aida Wessels, senior produksiebestuurder van Green Planet Productions wat die program vir KykNET vervaardig, vertel hulle wou hierdie jaar iets meer as net die bekendstelling van skole doen. Hul kreatiewe regisseur, Brenton du Plessis, het saam met uitvoerende vervaardiger Francois Nolte kopgekrap en so is die skopkompetisie vir die Botha-beker gebore.
Aan die begin van elke episode sal oudrugbyspeler Naas Botha die reëls verduidelik. Die wenskool is die een wat na drie seisoene van 13 episodes elk met die meeste skoppe eindig. Die wenners sal die Botha-beker ontvang.
- Kyk op Maandag 9 Maart om 17:30 op DStv-kanaal 146 na die program oor dié skool.
Selfs mnr. Hardy de Beer moes sy storie ken om die TV-span tevrede te stel.
Die rugbyspelers luister aandagtig na die reëls van die Botha-beker.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'