SWELLENDAM NUUS - Berigte op sosiale media doen die rondte dat Swellendam-munisipaliteit nie aan protokolle voldoen vir reiniging en higiëne met betrekking tot Covid-19-regulasies in een van die aangewese kwarantynfasiliteite nie, naamlik die Swellendam-karavaanpark.
Volgens Bianca McKechnie, senior media- en kommunikasiebeampte van die munisipaliteit is die karavaanpark vanaf die begin van die verklaarde nasionale ramptoestand op 15 Maart en die gevolglike staat van inperking wat op 26 Maart begin het, ingevolge die Wet op Rampbestuur as ’n kwarantynfasiliteit aangewys.
"Die doel van die fasiliteit is om as ’n afsonderingsfasiliteit te dien vir diegene wat asimptomaties is of geringe simptome het, maar nie in staat is om hulself tuis af te sonder nie. Elke eenheid by die karavaanpark word deeglik gereinig en ontsmet voor inwoners ingeteken word, asook ná hulle vertrek," verduidelik sy.
Basiese skoonmaakmiddels en –toerusting word intussen in elke eenheid aan individue voorsien om na die algemene skoonmaak van badkamers om te sien. ’n Opsigter en munisipale amptenaar is in die karavaanpark aan inwoners beskikbaar om voedsel af te lewer wat deur die munisipaliteit voorsien word, asook items soos toiletpapier en skoonmaakmiddels vir die badkamer indien voorraad sou opraak.
Omdat die munisipaliteit ’n diens vir daaglikse maaltye lewer, word dit in weggooihouers met weggooi-eetgerei voorsien en word dadelik na gebruik verwyder. Derhalwe word skoonmaakmiddels vir die kombuis nie voorsien nie, aangesien herbruikbare kook- en eetgerei nie verskaf word nie. "Indien inwoners items vir persoonlike higiëne benodig of hul tyd in afsondering weg van gesinslede moet deurbring, kan dit ook gereël word met die amptenaar wat die fasiliteit en sy inwoners bestuur."
Gegewe die feit dat inwoners in hul kamers en eenhede móét bly, is die deeglike reiniging en ontsmetting van eenhede nie nodig terwyl inwoners in kwarantyn is nie, maar slegs na hulle die perseel verlaat het aan die einde van hul afsonderingstydperk van twee weke en na hulle deur die bestuurspan van Swellendam-hospitaal as gesond verklaar is. Alle inwoners is, waar moontlik, verantwoordelik vir die skoonmaak van hul eie kamers en eenhede.
"Wees asseblief gerus dat hierdie proses voldoen aan die Covid-19-regulasies met betrekking tot die instandhouding van kwarantynpersele en -fasiliteite, soos uiteengesit in die Covid-19 Riglyne vir Kwarantyn en Afsondering (bl 17 en 19), soos gepubliseer deur die direkteur-generaal van gesondheid as aanvulling tot die regulasies R480 van 29 April 2020 (Staatskoerant 43258)," sê McKechnie. Die riglyne is ook beskikbaar op die munisipale webwerf by https://bit.ly/3dWkrbj
Dit is belangrik dat die publiek bewus is van die feit dat hulle nie toegelaat sal word om die kwarantynfasiliteit te nader of te betree nie en dat slegs lede van die munisipaliteit wat ’n voedseldiens lewer of gesondheidswerkers wat pasiënte onder kwarantyn moet ondersoek, toegelaat word om die karavaanpark te betree terwyl dit as ’n kwarantynfasiliteit dien.
Betreding van die perseel as ’n lid van die publiek is ’n regstreekse oortreding van die regulasies oor rampbestuur wat amptelik afgekondig is en is ’n strafbare en beboetbare oortreding.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
Vorige artikel: Reiniging van kwarantynfasiliteit
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'