Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Dit was reeds donker toe die fietsryers van Hoërskool Outeniqua Saterdagaand 23 Junie dié kusdorp ná 174 kilometer binnery, nadat hulle die oggend in George weggespring het.
Sterk wind op die grondpad tussen Gouritsmond en Stilbaai het die fietsryers, wat almal in gr. 10 tot gr. 12 is, behoorlik getoets en was hulle omtrent poegaai na hul eerste dag in die saal.
Stilbaai was die eerste oornagpunt vir die 18 leerders wat die fietstoer van meer as 500 km oor vyf dae aangepak het om geld vir Laerskool Herold, wat ongeveer 30 km vanaf George geleë is, in te samel. Die toer het Woensdag in Worcester geëindig met oornagpunte in Witsand, Agulhas en Caledon.
Volgens Elandi Rautenbach onderwyser aan Hoërskool Outeniqua, wat by die organisering betrokke is, samel hulle geld in met die doel om vir die laerskool 'n broodnodige preprimêre klaskamer te bou.
Die toer word met die ondersteuning van Solidariteit Helpende Hand gedoen deur leerders wat aan die skool se Impak-portefeulje behoort, waar hul leierskapvaardighede ontwikkel word.
Na 'n goeie nagrus in die chalets van Stilbaai se kampeerplek het hulle op 'n windstil Sondagoggend van Laerskool Herold se leerders afskeid geneem en die 80 km na Witsand vol moed aangepak.
Sewe of agt leerders trap in skofte van ongeveer 10 km en hulle ry hoofsaaklik op die grondpaaie of sekondêre paaie.
Kyk 'n video hieronder:
Die eerste skof is reg vir aksie. Van links is Lourick Fourie, Jay-Jay Joubert, Corné Meyer, Le RouxNieuwoudt, Michael du Plessis, Stepahan Gerber en Kobus Scholtz. Foto's: Elza Thiart-Botes, korrespondent
Lees 'n vorige berig: Kwaggas laat die speke sing
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'