Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Heidelberg se jaarlikse jeugfees, die Proe Bietjie Jeugkunstefees het weer vanjaar die lig gesien na dit verlede jaar deur die Covid-19-pandemie gekortwiek was.
Die fees het in 2015 onder leiding van Annelene Hartnick, voormalige onderwyser en wyksraadslid as hoof organiseerder afgeskop.
Ten spyte daarvan dat die fees aan streng Covid-19-regulasies moes voldoen, was dit 'n reusesukses omdat nuwe talent ontdek is.
Dít, volgens Hartnick wat ook aangedui het dat dit haar laaste jaar van voorvat vir die fees is, was vir haar 'n riem onder die hart om die nuwe talente te sien ontluik.
Die groot bonus egter vir feesgangers wat dit Saterdag, 15 Mei kom ondersteun het, was die optrede van Reagan Baadjies, oftewel "Reggie B met 'n Kolletjie i" van Rawsonville. Reggie B het bekendheid met sy indrukwekkende rymkletsery verwerf tydens die 2020 Maak my Famous-kompetisie.
Robyn September, wat ook al bekendheid met haar dramavernuf tydens haar skoolloopbaan by Kairos Senior Sekondêre Skool verwerf het, het ook haar verskyning gemaak. Sy was al 'n paar keer as gasakteur in verskeie sepies op televisie te sien.
Die veteraan akteur, Abdurugman Adams, Matthew Cooper en Ryan Brown het ook dans- en dramawerkswinkels vir jeuglede vanoor die hele Hessequa-streek by Kairos aangebied.
Fotogalery: Proe Bietjie Jeugkunstefees
Die jaar was die feesgangers met tradisionele rieldans deur die Net vir Pret-rieldansers, onder leiding van Peter Takelo van Barrydale getrakteer. Die Kairos-dansgroep, onder leiding van Connie September het ook hul dansvernuf ten toon gestel.
Op die dramafront het die Kairos-dramagroep, onder leiding van Willie Michaels, asook Stephren Saayman en sy toneelgeselskap weer eens hul uitsonderlike talente demonstreer met hul produksies, As die kind se lag verdwyn en Ek, Eva.
September het in laasgenoemde produksie weer haar besonderse talent ten toon gestel.
Hartnick het haar dank aan almal wat deel uitgemaak het aan die fees se sukses, of dit finansieel, deelname of net bywoning was, uitgespreek.
"'n Spesiale dank aan Hessequa-munisipaliteit en Hessequa Explorers Garden Route vir hul finansiële bydrae, asook die twee besighede wat vir akkomodasie en verversings gesorg het. Ons het nie baie geld gemaak nie, maar ons het ons doel bereik om die kunste te ontsluit. Dit is ons leuse, Unlocking The Arts."
Die Net Vir Pret-rieldansers, onder leiding van Peter Takelo van Barrydale (agter, derde van links).
Die Kairos-dansgroep wys wat in hulle steek tydens een van hul opvoerings.
Reggie B in aksie. Foto’s: Clive Pretorius
Vorige artikel: Kunstefees weer op dreef
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'