HEIDELBERG NUUS - Na afloop van die onlangse Kunstekaap Dramafees vir hoërskole in Kaapstad het die plaaslike Goliath Davids Legacy Project (GDLP) se kunste-akademie vier goue toekennings vir hul produksie 'Skaakmat #ekiskhoi' opgeraap.
Altesaam 16 uit 'n totaal van 45 skole moes hul dramaprojekte aan die beoordelaars voorlê, onder wie Riaan Visman, Kay Smith, Lesley Manim, Ilne Fourie en Sticks Mdidimba.
Die fees oor vier dae is in die Kunstekaap-teater opgevoer.
Die vyf finaliste moes in nege kategorieë meeding. Die belowende plaaslike akteur, Victoria Williams is as die beste aktrise aangewys.
Calron Pretorius is ook benoem as beste vroulike byspeler.
Die ander wenners van die verskeie kategorieë is:
- Beste akteur - Anathi Mthetho van die Sekondêre Skool Hector Petersen;
- Beste manlike byspeler - Siphesihle Ntantini van die Hoërskool Chris Hani;
- Beste vroulike byspeler - Wilmarie McThomas van Worcester Senior Sekondêr;
- Beste dramateks - Skaakmat #ekiskhoi, Goliath Davids Kunste-akademie;
- Beste regisseur - Skaakmat #ekiskhoi, Goliath Davids Kunste-akademie;
- Beste tegnies - Hector Petersen Sekondêr;
- Beoordelaars toekenning vir belowendste akteur - Langa Silevu van Hoërskool Masibambane;
- Beste produksie - Skaakmat #ekiskhoi, Goliath Davids Kunste-akademie.
Die studente van die Goliath Davids Kunsakademie saam met Peter-John Davids (agter, vierde van links), asook twee van hul borge, Cassie Koen en Willem Huysamen.
Volgens Peter-John Davids, mede-regisseur en skrywer, het die studente baie potensiaal om hul merk in die groter kunste arena te maak.
Hy het gesê dat hy baie trots op hul prestasies is en hulle aangemoedig om daarop voort te bou.
Hy bedank al hul donateurs vir hul ondersteuning aan die projek. "Daarsonder sal ons dit nooit kan maak om die kompetisies en feeste by te woon nie."
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'