Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die tema van vanjaar se Loslitdag op Vrydag 6 September is 'Dit is tyd om te skitter'.
Die dag vier vanjaar sy 25ste herdenking na dit deur die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NCPD) geskep is met die doel om geld vir gestremdes in te samel.
En dis nie sommer net so 'n fondsinsameling nie, want verlede jaar is nasionaal altesaam R31 miljoen ingesamel. Vandaar vanjaar se tema, want die gemeenskap sal moet skitter om die besondere prestasie te ewenaar. Dit word gedoen deur 'n R10-skenking vir 'n Loslitplakker in ruil vir die voorreg om op die dag lekker laf aan te trek.
Deur jou plakkers by Huis Wallace Anderson te koop baat die huis wat al 26 jaar onafhanklik sonder 'n staatsubsidie bestaan.
"Ons bestaan deur genade en fondsinsamelings. Loslitdag is een van die projekte waardeur dit prakties manifesteer," vertel Danie du Toit, een van die ses inwoners wat almal weens omstandighede in 'n rolstoel beland het. Maar dit laat hulle nie in sak en as nie, hulle bedryf twee ondernemings op die perseel. "Loslitdag is ons 'n belangrike fondsinsamelingsprojek en jaarlikse bron van inkomste," verduidelik hy. "Ons ontvang onmiddellik R4 van elke R10 plakker wat ons self verkoop.
Na die NCPD die oudit gedoen het, kry ons as geregistreerde nie-winsgewende organisasie ook 'n verdere bonus volgens die aantal plakkers wat ons verkoop het. Dit is dus duidelik vir ons baie belangrik om soveel moontlik plakkers uit ons eie voorraad te verkoop."
Die Loslitplakkers is by Huis Wallace Anderson by Proteastraat 29 beskikbaar. Kontak Du Toit by 028 713 3807 vir meer inligting.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Kry jou lislit-lisensie hier
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'