STILBAAI NUUS - Nagenoeg honderd kunsliefhebbers het die glansryke opening van die Hessequa-kunsroete se uitstalling op 14 Desember by die Kleinbergskloof-olyfplaas op Stilbaai bygewoon.
Altesaam 35 van die kunstenaars stal oor die 140 kunswerke - olieverf, akriel, pastelle, waterverf, fotografie, grafiese ontwerp en beeldhouwerk - uit.
Die gaste is in die galery deurentyd met ‘n kabaretvertoning deur die skilder en sangeres Brenda Thomas en die pianis Johan Erasmus vermaak, terwyl akrobatiese dansers buite op die gras hul vernuf ten toon gestel het.
Die uitstalling kan nog tot 17 Desember van tienuur soggens tot smiddae vyfuur besigtig word in die natuurskoon van Hennie en Suna Volschenk se bekroonde olyfplaas aan die oewer van die Goukourivier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’