HESSEQUA NUUS - Die reënmeters bly leeg en streng waterbeperkings is reeds ingestel.
Herman Myburgh, besproeiingsbestuurder, het in 'n persoonlike onderhoud aan die Suid-Kaap Forum genoem dat Korentepoortdam 2017 met 'n totale reënval van 615 mm afgesluit is.
"Dit is sowat 200 mm minder vir die jaar wat ondergemiddeld is.
Die Korentepoortdam se vlak is tans op 50 % en volgens die minister van waterwese word ons verplig om 20 % water te bespaar."
Volgens die Korentepoortdam-reënvalregister was 2009 dié jaar met die minste reënval sedert 1993.
Die jaartotaal vir 1993 was 753 mm en slegs 478 mm vir 2009. Met die daaropvolgende jaar, 2010 het die dam ook leeg gebly met 'n jaartotaal van net 685 mm.
"Die erge droogte van 2009 en 2010 het watervoorsiening bemoeilik. Reënpatrone verskil elke jaar en dit is moeilik om vas te stel wanneer ons wel reën sal kry."
Landbouers word streng op die volgende beperk
- Die bestaande reël dat water net tot Vrydae aangevra kan word, word steeds gehandhaaf.
- Gebruik van kwota word beperk tot 80 %. Sou die perk bereik word, sal geen water verder gelewer word nie.
- Koop en verkoop van kwotas word eers tydelik teruggehou.
- Normale aanvrae kan gedoen word, maar waar verhoogde aanvraag ontvang word het die bestuur die reg om dit te onderhandel, waartydens 'n skriftelike motivering ingehandig moet word vir die verhoogde aanvraag.
Myburg noem: "Ons versoek u om enige uitbreidings eers voorlopig te staak tot die watersituasie verbeter het.
Huishoudelike en vee-aansluitings moet ook besparing van 15 % op gebruik inbring. Veekrippe moet gereeld nagegaan word vir enige lekke."
Water beperkings vir die dorp is steeds as volg
- Jy mag jou tuin slegs tussen 16:00 en 18:00 natlei.
- Sproeiers mag gebruik word, maar tuinslange mag nie sonder toesig gebruik word nie.
- Sypaadjies, sementoppervlaktes en plaveisel mag nie afgespuit word nie.
- Emmers moet gebruik word wanneer motors, bote en karavane gewas word.
Myburgh het ook klem daarop gelê dat dit belangrik is dat die gemeenskap die Hessequa-nuusbrief lees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'