Die twis handel oor wie nou eintlik die regmatige verbruikersreg het om die naam Loving Shepherds as hul eie te eien, word eersdaags in die plaaslike landdroshof aangehoor. Die verhoordatum is 30 Maart 2012.
Volgens mnr. Desmond Esau, voorsitter van die "oorspronklike" Loving Shepherds Kersfeeskoor wat die dringende hofaansoek teen mnr. Frans oftewel "oupa Dawie" Fielies en nog sewe ander respondente van die "ander alternatiewelike" Loving Shepherds Kersfeeskoor gebring het, is sy groep die regmatige eienaars van die gesogte naam. Esau voer aan dat die koor al in 1952 gestig is en dat hulle oor die jare baie bekendheid verwerf het en ook een van die bekendste kore in die Kaapprovinsie is.
"In 2011 alleen het Loving Shepherds nie minder as 43 skilde en trofeë verwerf in kompetisies waarin ons opgetree het". Verder noem Esau dat hulle by die Suid-Afrikaanse Kersfeesorkeste raad geregistreer is.
Volgens Esau is hul koor net soos al die ander kore aangewese op skenkings, borge en fondsinsamelingsprojekte om fondse te in om hul uitgawes te dek en is dié naam van onskatbare waarde vir die koor in die verband. Esau noem verder dat Fielies hulle die publiek, borge en donateurs wil mislei deur dié naam te gebruik deur te glo dat die alternatiewe koor die ware Loving Shepherds is.
Fielies op sy beurt voer aan dat sy koor die oorspronklike eienaars is van die naam Loving Shepherds.
"Hy (Esau) het in 2006 toe hy lid was van Loving Shepherds as voorsitter van die SWD Kersfeeskoreunie (SWDKKU) gedien en toe uit ’n vergadering gestap toe hy sekere vrae gevra was. Hy is toe as voorsitter en lid uit die unie geskors". Fielies vertel verder dat al die oorspronklike stigterslede soos oom Basie Pieterse en oom Nicodemas Hoogbaard nogsteeds deel is van die "egte" Loving Shepherds waarvan hy die voorsitter is. Volgens Fielies het hulle al vele kere die saak probeer in die hof kry, maar dat hy wat Esau is nog elke keer ’n stok voorgesteek het.
Fielies beskuldig ook Esau van al die instrumente wederregterlik te gebruik. "Hy wat Desmond is het al die instrumente gevat toe hy deur die unie geskors is en weggebreek het om op hul eie aan te gaan" vertel Fielies duidelik nog hewig ontsteld oor die hele affêre. "Hoe kon ons sinvol aan kompetisies deelneem as hulle met al die instrumente in hul besit gehad het".Volgens Fielies het die plaaslike polisie ook nie objektief na hulle pleidooi geluister toe hulle die kwessie krimineel wou aanspreek nie. Fielies is egter vol vertroue dat die hofsaak in hulle guns beklink sal word. Laastens noem Fielies ook dat die SWDKKU bankvas agter hulle staan sedert Esau uit al dié unie se aktiwiteite geskors/verban is.

Frans Fielies, tweede van regs heel agter, saam met sy koorlede wat hulle as die regmatige Loving Shepards beskou. Twee van die stigterlede van 1952 sit regs in die voorste ry.