HESSEQUA NUUS - Die plaaslike munisipaliteit maak, in terme van die Hessequa Kommunikasie Beleid van verskillende media gebruik waardeur met die publiek gekommunikeer word, of waardeur die publiek met die munisipaliteit kan kommunikeer.
Sake van algemene belang word as item by wykskomiteevergaderings bespreek.
Dit is dus 'n uitstekende medium om met wyksraadslede kontak te maak om op dié manier sake van algemene of groter belang vir 'n spesifieke wyk onder die aandag van die munisipaliteit te bring.
Die maandelikse nuusbrief wat saam met die rekening versprei word, bevat waardevolle inligting.
Persone wat verkies om die nuusbrief elektronies te ontvang, kan by accounts@hessequa.gov.za registreer.
Om op hoogte van situasies in 'n spesifieke wyk te bly, soos padsluitings of beplande kragonderbrekings word per SMS gekommunikeer, mits op die SMS-databasis geregistreer is, wat direk op die munisipale webtuiste by www.hessequa.gov.za gedoen kan word, of deur by munisipale toonbanke 'n registrasievorm te voltooi.
Die plaaslike radiostasie, gedrukte pers, pamflette en kennisgewings, asook kommunikasie met sakekamers is ook kommunikasiemediums vir algemene belang vir die gemeenskap.
Vir eerstehandse inligting en munisipale nuus kan die munisipale webtuiste of hul Facebook-blad besoek word.
Dit is belangrik om te onthou dat daar nie op enige ander sosiale media, soos privaat Facebook-groepe gekommunikeer word nie en sosiale media word nie as kommunikasiemetode met die munisipaliteit erken nie.
Individue wat klagtes aan die munisipaliteit wil kommunikeer of navrae wil rig kan 'n skrywe aan die munisipale bestuurder rig by Posbus 29, Riversdal, 6670 of e-pos info@hessequa.gov.za.
Om op laasgenoemde wyse te kommunikeer word verseker dat 'n unieke verwysingsnommer toegeken word om die vordering van die klagte of navraag op die munisipaliteit se stelsel te volg.
Kontak die munisipaliteit vir enige verdere inligting of navrae oor die kommunikasiebeleid by susan@hessequa.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'