WITSAND NUUS - Die ontsoutingsaanleg op Witsand wat op 12 Februarie 2019 amptelik geopen is, is volgens sommige inwoners van dié kusdorp besig om in onbruik te verval.
Een van die inwoners het genoem dat die ontsoutingsaan-leg nie gediens word nie en die rede daarvoor blykbaar weens 'n gebrek aan beskikbare fondse is.
"Water is met trokke na Witsand aangery vir gebruik. Sal dit op die lang duur nie meer kos nie?" het hy gevra.
Hessequa-munisipaliteit het 'n reuse deurbraak gemaak met die installasie van die eerste sonpaneel aangedrewe ontsoutingsaanleg in Suid-Afrika. Professor Erwin Schwella van die Universiteit Stellenbosch, asook die Universiteit van Tilsburg, in samewerking met die munisipaliteit was die groot dryfveer agter die projek.
Die Franse tesourie en die Wes-Kaapse droogteverligtingsfonds het mildelik bygedra om die eerste innoverende groen-tegnologie hier te implementeer.
Die tegnologie, OSMOSUN®, is deur 'n Franse maatskappy, Mascara Renewable Water ontwikkel en na Suid-Afrika gebring deur hul Suid-Afrikaanse vennoot, TWS-Turnkey Water Solutions as die wêreld se eerste omgekeerde osmose ontsoutingstegnologie, in samewerking met fotovoltaïese-sonkragenergie wat sonder batterye werk.
Bestaande infrastruktuur op die terrein het die hele projek koste-effektief vir die munisipaliteit gemaak. Dit is spesifiek ontwerp om in die behoeftes van kusdorpies wat afhanklik is van brak- of boorgatwater te voorsien.
In kommentaar het Hessequa-munisipaliteit genoem dat die tegniese dienste-afdeling tans besig is om 'n verslag saam te stel oor die werking en instandhouding van die ontsoutingsaanleg.
"Met die voltooiing van hierdie verslag sal feitelike inligting oor die aanleg beskikbaar wees."
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'