STILBAAI NUUS - Die Klipwerf-boereorkes sal volgende maand op die kusdorp optree vir 'n lekker boereopskop in die plaaslike gemeenskapsaal op 11 Mei.
Willie Welman, eienaar van Stilbaai Makelaars, wat die inisiatief geneem het om die orkes te nooi, het besluit om op hierdie manier die gemeenskap te bedank vir hul ondersteuning, vir vermaak, maar terselfdertyd ook om Huis Stilbaai se fondse te versterk.
Alle geld wat deur middel van kaartjieverkope geïn word sal dus aan die tehuis geskenk word.
"Ons doen 'n beroep op almal om hierdie geldinsamelingsprojek te ondersteun omdat Huis Stilbaai dit broodnodig het. Indien al die kaartjies verkoop word, sal dit nagenoeg R30 000 in hul koffer plaas," sê Welman.
Die geleentheid sal in die vorm van 'n mandjiedans wees en eie eet- en drinkgoed is nodig. Ys sal voorsien word.
"Baie dankie aan Sue Jordaan wat gratis akkommodasie aan die orkeslede verskaf, asook Rudi en Marijke Kleynhans wat die ys voorsien."
Vir meer inligting of navrae kan Marinda van As geskakel word by 028 754 1721 of 082 608 7827.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'