STILBAAI NUUS - Die eens dormante Ontwikkelingskomitee van die dorp gaan nuwe lewe kry.
Stilbaai Belangeforum in samewerking met Hessequa-munisipaliteit en gemeenskapsorganisasies wil dié komitee weer aktiveer om saam oor die beste toekomstige benutting van Stilbaai se strategiese munisipale eiendomme te besin.
Hierdie eiendomme behels onder meer die area langs die parkeerterrein by Lappiesbaai waar die restaurant en kleedkamers tans geleë is, Julie se Baai, die munisipale eiendom wat grens aan die hawe-gebied, die gebied langs die Wes-oewer van die Goukourivier in die omgewing van Lapskuit asook die strategiese stuk grond van ongeveer 65 ha wat oorkant die munisipale kantore al langs Hoofweg-Wes vanaf die Jongensfonteinpad tot by die gholfbaan strek.
Die komitee wat uit senior munisipale amptenare, verteenwoordigers van die Belangeforum, Stilbaai-sakekamer, die toerismeburo asook inwonersverenigings sal bestaan, sal bydra tot besluite oor dié eiendomme in die beste belang van die gemeenskap.
Meer inligting sal tydens Stilbaai Belangeforum se algemene jaarvergadering op Donderdag 20 Februarie om 16:00 in die Palinggat-saal verskaf word.
Almal is welkom om dit by te woon.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'