HEIDELBERG NUUS - Die Kairos-ondersteunersgroep of KOG, soos hulle alombekend is, het Sondag 10 Junie hul eerste fondsinsamelingsfunksie gehou.
Die funksie is in die nuwe Kairos-skoolsaal met 'n 'high tea' vir vroue aangebied.
Anna Petersen, boorling van Riversdal en bekende gemeenskapsvrywilliger en motiveringspreker was die gasspreker. Hoewel sy geen hande het nie, kom sy daarsonder oor die weg en is van niemand afhanklik om enigiets vir haar te doen nie.
Nagenoeg 150 vroue, waaronder meestal moeders van leerders, maar ook ander familielede, vriende en 'n paar mans het die spoggeleentheid bygewoon.
Laurence Moolman, voorsitter, het as seremoniemeester opgetree. Elmarie Jegels, opkomende sanger het die gaste met haar goue stem trakteer.
Synthia Lotz, bekende MIV/Vigsberader het Handelinge 9 vers 36 aan die vroue voorgehou en hulle vergelyk met Tabitha, oftewel Dorkas. Lotz het hulle daaraan herinner dat daar nog vele Dorkas in die skoolgemeenskap kort.
Petersen het vertel dat sy eers as enkelma haar seun grootgemaak het. Sy het hom geleer dat hy hom nooit vir haar as ma hoef te skaam nie.
"Ek het alles self gedoen soos wat normaalweg die norm is om kinders groot te maak. Ek vra niemand om my te bejammer nie."
Die groep rolspelers van Kairos se beheerliggaam en ondersteunersgroep was aan die voortou met die aanbieding van die suksesvolle 'High Tea' by die skool. Hier sit hulle saam met Anna Petersen (voor, middel). Tom Pretorius staan heel links agter met Vivian Prins en Laurence Moolman, heel regs agter.
Sy dien nou al vir 14 jaar as vrywilliger die gemeenskap en sedert 2005 bedryf sy haar eie kleuterskool. "Ons is soos miere wat elkeen ons eie paadjie met ons lewensvrag op ons rûe loop."
Volgens haar maak dit nie saak wat die uitdagings is nie, solank jy in Sy lig bly, sal die donkerte jou nooit oorval nie.
Prins het vertel: "Toe ek by die skool begin het was daar baie uitdagings, maar wanneer ek terugkyk, is ek baie tevrede met die skool se vordering, veral die bou van die saal.
Ek kan nie anders as om met groot dankbaarheid teenoor al die lede van KOG vir hul onbaatsugtige betrokkenheid te verwys nie."
Anna Petersen spreek haar gehoor toe. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'