ALBERTINIA NUUS - Eerste Nasionale Bank (FNB) het aan die einde van verlede maand sy deure in dié dorp gesluit.
Dis presies 'n jaar nadat die bank vier takke in die Vrystaat ook gesluit het. ¬Warden, Winburg, Excelsior en Rouxville se takke is aan die einde van April 2017 gesluit.
Die rede vir die sluiting is deur FNB so verduidelik: "FNB regularly reviews the viability and sustainability of branches in line with its business strategy. The bank has taken the decision to close the branches in the Free State due to a reduction in banking activity," het Lee-Anne van Zyl, hoof uitvoerende beampte van FNB, Points of Presence gesê.
Die Vrystaatse dorpies het soortgelyke inwonergetalle soos Albertinia en landbou is ook die primêre bron van besigheid en werkverskaffing. Kliënte en inwoners het protesoptogte gehou, maar die bank se besluit was finaal.
Slagspreuk
'Hoe kan ons jou help?' Dié slagspreuk van die bank help glad nie vir Albertinia nie, het inwoners gekla.
Die bank het wel 'n mobiele kitsbank (OTM) langs die leë bankgebou in Hoofstraat geplaas vir kliënte om transaksies te doen, maar as hulle met die personeel wil gesels, moet hulle nou die ongeveer 40 km na Riversdal, of verder na Mosselbaai toe ry.
Dit het 'n groot impak, veral op bejaarde kliënte en diegene wat nie voertuie het nie.
Die addisionele (reis en tyd) onkostes sal 'n groot invloed hê en baie kliënte, wat besighede insluit, het aangedui dat hulle moontlik hulle rekeninge na 'n ander bank gaan oordra.
Dit is wel so dat baie kliënte slegs gebruik maak van elektroniese bankstelsels, maar daar is baie wat nie toegang daartoe het of dit nie vertrou nie. Teen druktyd was FNB nie beskikbaar vir kommentaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'