HEIDELBERG NUUS - Van die plaaslike kleinboere wat vir die beloofde bystand deur die regering aansoek gedoen het, het steeds geen hulp ontvang nie.
Drie van die kleinboere waarmee Suid-Kaap Forum se korrespondent op Heidelberg gepraat het, het gesê dat hulle in sak en as is en dat dit broekskeur gaan omdat hulle nog niks van die regering gehoor het nie.
Volgens Marlen Olckers, voorsitter van Saambou-kleinboerdery en die voorsitter van Heidelberg-kleinboerevereniging, Leon Manho, het hulle al op 24 April hul aansoeke vir die noodleniging ingedien, maar nog geen terugvoering gekry nie. "Dis bitter teleurstellend dat die regering so goedsmoeds aankondigings maak, maar dit nie tot uitvoering kan bring nie," het hulle gesê.
Tydens 'n besoek aan Heidelberg-kleinboere se perseel het Hans Hopp, een van die ontevrede lede ook sy misnoeë oor die gesloer vir die goedkeuring van die noodleniging uitgespreek. Volgens Hopp is dit baie droog en sukkel hulle met water.
Een van sy beeste het blykbaar 'n paar dae tevore in die modder vasgeval, op soek na water en voer in die veld. "Ons het hom gelukkig na 'n paar dae gevind waar hy in 'n baie swak toestand was. Ons kon hom nie onmiddellik uithaal nie, omdat die plek waar hy vasgeval het, byna onbereikbaar is." Hopp het bygevoeg dat hulle reeds swaar trek en dan moet hulle boonop hul diere se voeding teen rondloper bosvarke beskerm.
Maar dit is nie net die kleinboere wat op die regering se beloftes wag nie. Inwoners wat aansoek gedoen het vir die R350 vir diegene wat geen inkomste ontvang omdat hulle nie kan werk en geen toelaes ontvang nie, wag ook.
Dis rondloper bosvarke soos die twee wat 'n groot bedreiging vir die plaaslike kleinboere inhou. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'