Die egpaar wat al vir die afgelope 35 jaar in Grassy Park in Kaapstad woonagtig is, het al verskeie kere kospakkies aan behoeftige gesinne hier kom uitdeel. Volgens die Geldenhuyse sal hulle nie die goeie dade kon doen sonder die hulp van hul twee seuns nie; Grant en Reggie en hul gades wat onderskeidelik in Kanada en China woonagtig is.
Reggie doen opheffingswerk in sy aangenome land deur middel van sy nie-winsgewende organisasie, Making a Difference (MAD) en beywer homself om nie van sy geboorteland se eie sosiale uitdagings te vervreem nie.
Die egpaar het hulle voorberei om Saterdag, 8 Desember 300 kinders tussen 4 en 12 in die Duivenhoks gemeenskapsaal te onthaal, maar net ongeveer 200 het vir die vroeë Kersparty opgedaag. Terwyl hulle die saal opgeruim het, het daar egter nog heelwat kinders aangekom. Hulle het, buiten lekkernye elkeen ook 'n geskenkpakkie ontvang. Geskenke van poppe, teddiebere, rugby- en sokkerballe, karretjies en skoolbenodighede is aan die kinders gegee. Verskeie speletjies was aangebied waar kinders bykomende pryse kon wen.
Die kleuters het ook entoesiasties saamgesing aan Kersliedjies.

Die Geldenhuys-egpaar, Sammy en Janey met die Kershoedjies saam met hul tweelingdogters, Lelanie en Leazle links voor met hul mede-helpers.