STILBAAI NUUS - Die Kasselshoop Farm Run-reeks het Saterdag 23 Februarie op 'n hoë noot afgeskop toe 'n totaal van 90 deelnemers by die kaasfabriek opgedaag het.
Dit word vanjaar vir die tweede jaar aangebied en is die eerste byeenkoms van 'n beplande 11 vir die jaar.
Deelnemers het van sover as Mosselbaai en Hartenbos gery. Heelwat plaaslike entoesiaste met heelparty besoekers vanoor die land het die 5 km-roete op die plaas, Klein Soebattersvlakte aangedurf.
Die jongste deelnemer, Kearan Prins (5) het saam met die res van sy familie die roete voltooi met sy 13-jarige broer, Beyon, wat boonop eerste by die einde met 'n tyd van 19 minute en vier sekondes was.
Prins en Jeffrey Saaiman (19) van Droëvlakte, wat laasjaar 'n paar keer gewen het, het tot kort voor die einde saam gehardloop met Saaiman wat uiteindelik 36 sekondes later klaargemaak het. Nicolaas Steenekamp van Rustenburg was derde en is gevolg deur die plaaslike skoliere, Daniel van Rensburg (16) en Alrich Rademeyer (9) het almal uitstekend gevaar en die top vyf afgerond.
Die Stilbaaier, Zita Steinmair het ook onder die top 10 klaargemaak en was die eerste dame by die einde met 'n tyd van 23 min 36 sekondes. Nóg 'n Stilbaai-drawwer, Steyntjie Prins is tweede en Esja van Niekerk van Heidelberg derde. Die agtjarige Luané Janse van Rensburg, ook van Stilbaai, was die vierde dametjie by die einde met die plaaslike onderwyser, Verona Pieters, vyfde.
Terwyl diegene wat hul fiksheid aan die begin van die seisoen wou toets, dit wel kon doen, het heelwat families, gesinne en vriende die byeenkoms vir die eerste keer aangepak en die natuur bewonder. Koeie met hul kalfies was langs die roete te sien en selfs foto's van die voëllewe kon geneem word.
Brian Fraser (72) het vir die eerste keer deelgeneem en was dalk die stapper met die meeste jare agter die rug, maar met sy kamera om die nek het hy en sy vrou Rose, asook hul vriende hul stap op die plaas behoorlik geniet en kon hy heelwat voëls erken en afneem.
Die Kasselshoop Farm Run-reeks is geregistreer dat deelnemers hul Vitality-punte kan opeis wanneer hulle die roete voltooi het.
Die volgende twee byeenkomste vind op 23 en 30 Maart in die skoolvakansie plaas. Meer inligting is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za.
Vriende geniet die Kasselshoop-wedren saam.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'