RIVERSDAL NUUS - KANSA se tak in die dorp het Donderdagaand 18 Julie vanjaar se Relay for Life tydens 'n emosiebelaaide seremonie in Riverville-sportsaal ingelui.
Die sesde Relay for Life in die dorp word op 9 November op dié rugbyveld aangebied. Die deurnagverrigtinge begin om 18:00 en loop om 05:00 ten einde.
"Even if you lose your life to cancer, you beat it by the way you live," het Vader Noel Weber vir Stuart Scott in sy openingsboodskap aangehaal. Dit is waaroor KANSA gaan - om mense by te staan om oorwinnaars te midde van die stryd teen die Groot K te wees.
KANSA is 'n vrywilliger-organisasie sonder winsoogmerk. Fondse wat deur verskeie aktiwiteite soos die Relay for Life ingesamel word, word aangewend om die lewe van 'n kankerpasiënt tydens behandeling meer draaglik te maak.
"Die Relay simboliseer die roete wat 'n pasiënt stap van die dag wat kanker gediagnoseer word," het Amelia Thiart, streekkoördineerder, verduidelik. "Dis skemer wanneer jy die nuus hoor, en namate die behandeling vorder, word die pad al donkerder. Wanneer die behandeling afgehandel is en jou lewe weer na normaal begin terugkeer, kom 'n nuwe son op en jy weet die Here het jou deurgedra."
Kanker hoef nie 'n doodsvonnis te wees nie. "Indien dit betyds gediagnoseer word, kan die behandeling suksesvol wees," het Brenda Scholtz, voorsitter van die tak gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Ronel Fielies het haar storie van hoop gedeel. "Ek is in 2006 met borskanker gediagnoseer. Omdat ek twee seuns van ses en agt jaar oud gehad het, het ek gekies om 'n mastektomie te ondergaan. Vandag kan ek net vir die Here dankie sê dat Hy my deurgedra het."
Elisna Koeries was die jongste kankeroorwinnaar teenwoordig. Sy is op vyfjarige ouderdom met leukemie gediagnoseer. "Ek was swanger en dit het vir my gevoel alles raak net te veel," vertel haar ma, Annelise, wat haar versorg het. "Dit was swaar, maar 'n mens moet net aangaan. Gelukkig was daar mense wat ons bygestaan het."
As deel van die seremonie het oorwinnaars om die simboliese roete, gemerk met Luminaria-sakke, gestap. Later is die kerse in die sakke aangesteek in herinnering aan diegene wat weens kanker gesterf het. Almal - oorwinnaars, versorgers en ondersteuners - het uiteindelik hande gevat en om die brandende liggies gestap as simbool daarvan dat pasiënte nie die stryd teen kanker alleen aanpak nie.
Inwoners wat spanne wil inskryf, word genooi om Chanel Louw te kontak by 079 909 1397 of per e-pos by chanelot@gmail.com.
Die Sanlam Cancer Challenge word op 27 Julie by Riversdal-gholfklub aangebied. Inskrywingsfooi R170 per persoon. Kontak Anton by 082 443 1740 of Faffa by 083 660 5662 om in te skryf.
IN SHORT:
CANSA Riversdale Relay for Life was launched at Riverville sports hall on Thursday 18 July. The annual 12-hour nighttime relay will take place on 9 November at the sport grounds. Contact Chanel Louw at chanelot@gmail.com to enter your team.
KANSA Riversdal het Donderdag 18 Julie vanjaar se Relay for Life met 'n spesiale seremonie van stapel gestuur. Foto's: Tisha Steyn
Ronel Fielies, kankeroorwinnaar het haar verhaal van hoop gedeel.
Elisna Koeries (12) is op vyfjarige ouderdom met leukemie diagnoseer. Haar ma Annelise was haar versorger.
Lees 'n vorige artikel hier: KANSA Riversdal stuur relay for life van stapel
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'