HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike landdroskantoor het besluit om in die toekoms meer toeganklik te wees vir inwoners deur na die gemeenskappe uit te reik.
Volgens Senzo Soji, 'n klerk van die hof en betrokke by die kommunikasie tussen staatsamptenare en die gemeenskap, is hulle verplig om volgens die Batho Pele-beginsels dienste aan verbruikers in te stel.
"Dit is ons plig om hierdie dienste tot die beste van ons vermoë daar te stel. Die riglyne waarop ons wil klem lê is "toegang en inligting," het Soji beklemtoon.
Soji sê dat hulle as personeel daarna streef om te verseker dat elke lid van die publiek gelyke toegang het tot die dienste wat aangebied word.
"Ons streef ook daarna om te verseker dat die dienste wat ons aanbied te alle tye verbeter. Die publiek is geregtig op volledige, akkurate en korrekte inligting wat in die hof gebeur.
Met inagneming van bogenoemde het die personeel die plig opgeneem om te verseker dat die gemeenskap van Slangrivier alle relevante inligting kry waarop hulle geregtig is.
Vanaf Donderdag 9 Maart sal die personeel van Heidelberg-landdroshof elke tweede Donderdag in die Slangrivier-gemeenskapsaal wees om die gemeenskap by te staan met die verskeie aansoeke, waaronder onderhoud, gesinsgeweld, teistering asook enige ander inligting wat dalk benodig word.
Dié diens sal tussen 09:00 en 14:00 op die gegewe dag gelewer word.
Die datums vir die voorlopige proeflopie is as volg:
- 23 Maart;
- 13 en 20 April;
- 4 en 18 Mei.
Vir navrae rakende hierdie diens skakel Soji by 028 722 1927b of 061 489 7339.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'