Update
STILBAAI NUUS - Lapskuit was Saterdag 9 Julie 'n miernes van bedrywighede toe 21 pragtige veteraan- en klassieke motors daar bymekaargekom het vir 'n pretrit met 'n skattejag deur Stilbaai en Jongensfontein.
Die deelnemers het van vroegoggend af aangekom en daar is lekker gesels voor hulle met intervalle van 90 sekondes uitmekaar weggespring het op 'n roete waar die navigator bietjie kaartlees moes doen.
Hulle moes ook 45 vrae beantwoord van plekke op hulle roete, by spoedbeperkings hou, verkeersreëls nakom en natuurlik die roete en natuurskoon geniet.
By die wegspring het Leon Oelofse sy 1920-grammofoon uitgehaal en goed opgewen sodat Ron en Anneke Harris van George die byeenkoms op die maat van Sarie Marais kon oop dans.
Van kwart oor elf af het die motors begin inkom en dit was duidelik dat almal die roete terdeë geniet het. By hulle aankoms is almal getrakteer met heerlike hamburgers en nuuskieriges het die geleentheid gehad om met die voertuie se trotse eienaars te gesels.
Daar was natuurlik ook pryse op die spel en die wenners was Kobus en Elize Joubert van Riversdal met hulle omgeboude 1981 Isuzu-bakkie.
Kobus en Elize Joubert van Riversdal het die pretrit gewen in hul 1981 Isuzu-bakkie.
Trouens, daar was pryse vir elke deelnemer en niemand het met leë hande huis toe gegaan nie.
Almal was dit eens dat hierdie 'n jaarlikse instelling moet wees. Dit kan natuurlik net groter en beter raak.
Die Joubert's se Isuzu-bakkie.
Dié Backdraft Cobra met sy Chev-enjin het beslis die oog gevang.
Leon Oelofse voor sy 1911 Model T Ford wat baie aandag getrek het.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'