STILBAAI NUUS - Ongeveer 25 veteraan- en eksotiese motors gaan op Saterdag 9 Julie Jongensfontein en Stilbaai deurkruis in 'n pretrit waartydens hul navigasievermoë en kennis van die twee dorpe deeglik getoets gaan word.
Die motors gaan Saterdag by Lapskuit bymekaarkom en 'n lys met 45 vrae asook 'n kaart ontvang.
Hulle gaan dan 90 sekondes uitmekaar wegspring, 'n sekere roete volg teen 'n bepaalde spoed en langs die pad by 45 bekende en geskiedkundige punte verbygaan waar hulle sekere vrae sal moet beantwoord.
Die hele rit duur net meer as 'n uur en hulle eindig weer by Lapskuit. Vanaf 11:00 tot ongeveer 14:00 sal die motors dan deur die publiek besigtig kan word en die eienaars sal vrae oor hulle motors beantwoord.
Leon Oelofse, met sy 1911 Model T Ford, sal heel eerste wegspring. Hy sê hy bring sy grammofoon uit 1920 saam om die musiek te verskaf. Hulle beoog om ook 'n 1925 Ford-bakkie daar te hê om deel te neem.
Stilbaai Slaghuis het onderneem om hamburgers te voorsien aan al die bestuur-ders, navigators en werktuigkundiges waarmee hulle dan die dag gaan afsluit.
Unigro Financial Services borg die pryse en die idee is dat elke deelnemer met iets sal wegstap, al is dit net 'n bottel water.
Hulle het inskrywings ontvang van sover as George, Mosselbaai, Heidelberg, Riversdal en Albertina en die klub beoog om dit 'n jaarlikse instelling te maak. Hierdie Ken Jou Dorp-pretrit is die eerste van sy soort in die streek en beloof om baie pret te wees, nie net vir die deelnemers nie, maar ook vir die toeskouers en dorpenaars.
Vir enige navrae rakende die pretrit bel Leon Oelofse by 083 288 8897 of Johan Beetge by 083 725 3790. Indien jy belangstel om by die Just Wheels-motorklub aan te sluit, kan jy gerus vir Johan skakel.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'