STILBAAI NUUS - Dié kampterrein vir bekostigbare huisvesting net buite die ingang na die dorp het die afgelope vakansie weer sommige mense warm onder die kraag gehad.
Op sosiale media is die vraag onder meer gevra of reëls in verband met drankgebruik en geraas enigsins toegepas word.
Rachel Wall van Stilbaai-sakekamer verduidelik die geriewe is jare gelede geskep om tydens Touchies goedkoop verblyf aan spelers en ondersteuners te verskaf. Die sakekamer bestuur die terrein namens Hessequa-munisipaliteit en vrywilligers offer hul vakansietye op om 'n diens te verskaf. Dit word steeds deur hoofsaaklik jong mense benut en Wall reken dit bring eiesoortige probleme: "Terwyl ons nie enige wangedrag goedkeur nie, moet uitgewys word dat terwyl daar sekerlik drank in die kamp gebruik word, dit maar 'n klein deel van die verbruik is. Die persone wat hoofsaaklik daar oorbly kom gewoonlik in die kamp aan a 'n dag by die Touchies-biertuin, Drie Ankers, Rocking Stilbaai, kroeë, restaurante of na feesvieringe op die strand op Nuwejaarsdag. Ons is dus van mening dis nie die verantwoordelikheid van die bestuur om die studente se drankgebruik te beheer nie."
Volgens haar word die bestuur die afgelope 10 jaar deur dieselfde persone behartig: "Hulle maak by die hek seker almal wat nie studente is nie, besef die meerderheid kampeerders is jong mense. Daar word ook 'n 'geen steurnis'-reël toegepas en ten minste 10 persone op 'n keer is aan diens om wangedrag te beheer."
Wall sê die sakekamer neem kennis van die probleme en beplan 'n gesprek met alle ander belangegroepe om die risiko's pro-aktief te bestuur.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'